1Die Here regeer – laat die volke bewe! Hy troon oor gerubs – laat die wêreld sidder!
2Die Here in Sion is groot, verhewe is Hy bo al die volke.
3Laat hulle u groot en ontsagwekkende Naam prys – “•Heilig is Hy!” –
4en die krag van die Koning, Hy wat die reg liefhet. Dit is U wat billikheid, reg en geregtigheid gevestig het in Jakob; U het dit gedoen.
5Verheerlik die Here ons God, buig in aanbidding voor die voetbank vir sy voete: “Heilig is Hy!”
6Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het. Wanneer hulle die Here aangeroep het, het Hy self hulle geantwoord.
7Uit 'n wolkkolom het Hy met hulle gepraat. Hulle het sy bepalings nagekom, ook die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het.
8Here, ons God, U self het hulle geantwoord. U was vir hulle 'n God wat vergewe, maar ook Een wat hulle dade vergeld.
9Verheerlik die Here, ons God, buig in aanbidding voor sy heilige berg, want heilig is die Here, ons God.