1'n Psalm. Sing vir die Here 'n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen. Sy regterhand, sy •heilige arm, het Hom bygestaan.
2Die Here het sy verlossing bekend gemaak; voor die oë van die nasies het Hy sy •geregtigheid geopenbaar.
3Hy het sy troue liefde, sy getrouheid teenoor die huis van Israel, onthou. Al die uithoeke van die aarde het die verlossing deur ons God gesien.
4Juig tot eer van die Here, o ganse aarde; wees vrolik, jubel en besing Hom,
5besing die Here met begeleiding van liere, op die lier saam met die klank van sang,
6op trompette saam met die klank van •ramshorings. Juig voor die Koning, die Here.
7Laat die see en alles daarin dit uitbasuin, die aarde en dié wat daarop woon.
8Laat die riviere hande klap en saam met die berge jubel
9voor die Here; want Hy kom om die wêreld te oordeel, Hy sal die aarde oordeel in geregtigheid en die volke in billikheid.