1O God wat vergeld, Here, God wat vergeld, laat u lig skyn.
2Verhef U, regter van die aarde, gee hoogmoediges hulle verdiende loon.
3Hoe lank sal goddeloses, o Here, hoe lank sal goddeloses jubel?
4Hulle laat woorde onbeskaamd uitborrel; almal wat onreg pleeg, prys hulleself aan.
5Hulle verpletter u volk, Here, hulle verdruk u erfdeel.
6Hulle maak weduwees en •vreemdelinge dood, hulle vermoor vaderlose kinders.
7Dan sê hulle nog: “Die Here sien dit nie, die God van Jakob merk dit nie op nie.”
8Sien dit tog in, julle onverstandiges onder die volk! En dwase, wanneer word julle wys?
9Hy wat die oor inplant, sal Hy nie kan hoor nie, of Hy wat die oog vorm, sal Hy nie kan sien nie?
10Hy wat nasies vermaan, sal Hy nie straf nie, Hy wat aan mense kennis oordra?
11Die Here ken mense se gedagtes, dat dit nietigheid is.
12Gelukkig is die mens vir wie U teregwys, Here, vir wie U leer uit u wet,
13om aan hom verligting te gee in dae van onheil, totdat 'n graf gegrawe is vir goddeloses.
14Ja, die Here sal sy volk nie in die steek laat nie; sy erfdeel sal Hy nie laat vaar nie.
15Want die regspraak sal weer regverdig wees en almal met opregte harte sal dit steun.
16Wie sal vir my opstaan teen kwaaddoeners? Wie sal vir my in die bres tree teen hulle wat onreg pleeg?
17As die Here nie my hulp was nie, sou ek spoedig in die stilte gewoon het.
18As ek dink my voet gaan swik, dan ondersteun u troue liefde my, Here.
19Wanneer ontstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur u vertroosting my op.
20Kan die setel van vernietiging wat die wet skade aandoen, aan U verbonde wees?
21Hulle span saam teen die lewe van regverdiges, hulle verklaar onskuldige bloed skuldig.
22Maar die Here het vir my 'n toevlugsoord geword, my God het my rotsskuiling geword.
23En Hy sal hulle onreg na hulle laat terugkeer, met hulle eie kwaad sal Hy hulle vernietig; die Here ons God sal hulle vernietig.