1'n Lied. 'n Psalm. Van Asaf.
2O God, moet tog nie stilbly nie; moet U nie doof hou nie en moenie stil wees nie, o God.
3Want kyk, u vyande is rumoerig, u haters loop kop omhoog.
4Teen u volk maak hulle listig planne, hulle beraadslaag teen dié wat deur U beskerm word.
5Hulle het gesê: “Kom ons wis hulle uit as 'n nasie sodat die naam Israel nie meer onthou word nie.”
6Ja, hulle het eendragtig saamgespan; teen U het hulle 'n verdrag gesluit:
7die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die nageslag van Hagar,
8Gebal, Ammon en Amalek, Filistea en ook die inwoners van Tirus.
9Ook Assirië het by hulle aangesluit; hulle het die nageslag van Lot die hand gereik.
10Maak met hulle soos met Midian, soos met Sisera, soos met Jabin by die spruit Kison.
11Hulle is uitgedelg by En-Dor, hulle het mis geword vir die grond.
12Maak met hulle, met hulle vooraanstaandes, soos met Oreb en Seëb, met al hulle stamhoofde soos met Seba en Salmunna,
13wat gesê het: “Laat ons die weivelde van God in besit neem.”
14My God, maak hulle soos tolbosse, soos kaf voor die wind.
15Soos vuur 'n bos verbrand, soos 'n vlam berge aan die brand steek,
16so moet U hulle agtervolg met u stormwind, hulle met u storm in verwarring bring.
17Bedek hulle gesigte met skande, sodat hulle kan vra na u Naam, Here.
18Laat hulle vir altyd beskaamd staan en verskrik wees; laat hulle in die skande kom en ten gronde gaan.
19Dan sal hulle weet dat net U, wie se Naam Here is, die Allerhoogste is oor die hele wêreld.