Psalms 79AFR20

1'n Psalm. Van Asaf. O God, nasies het in u eiendom ingegaan, hulle het u •heilige •tempel verontreinig; hulle het Jerusalem tot puinhope gemaak.

2Hulle het die lyke van u diensknegte vir die voëls van die hemel as kos gegee, die vleis van u getroue volgelinge vir die wilde diere van die aarde.

3Hulle het hulle bloed soos water uitgestort om Jerusalem, en daar was niemand wat hulle begrawe het nie.

4Ons het die bespotting van ons bure geword, die hoon en spot van hulle rondom ons.

5Hoe lank nog, Here? Gaan U vir ewig toornig bly; sal u heilige jaloesie soos 'n vuur bly brand?

6Stort u gramskap uit oor die nasies wat U nie ken nie, oor die koninkryke wat u Naam nie aanroep nie;

7want hulle het Jakob verteer, sy weiding verwoes.

8Moet tog nie ons vroeëre sondeskuld teen ons hou nie; laat u ontferming ons gou bereik, want ons het baie min geword.

9Help ons, o God wat ons verlos, ter wille van die eer van u Naam. Red ons en bedek ons sondes, ter wille van u Naam.

10Waarom moet die nasies sê: “Waar is julle God?” Laat dit voor ons oë onder die nasies bekend word: die wraak oor die bloed van u diensknegte wat vergiet is.

11Laat die gesug van gevangenes U bereik; laat hulle, gedoem tot die dood, deur u groot mag gespaar bly.

12Vergeld ons bure sewevoudig waar dit hulle erg raak vir die bespotting waarmee hulle U bespot het, my Heer!

13Ons is u volk en die skape van u weiding; ons sal U vir altyd prys. Van geslag tot geslag sal ons vertel van die lof wat U toekom.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 79.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.