1Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. 'n Getuienis. Van Asaf. 'n Psalm.
2Herder van Israel, luister tog! U wat Josef soos kleinvee lei, U wat oor die gerubs troon – laat skyn tog u lig
3voor Efraim, Benjamin en Manasse! Laat u mag ontwaak en kom tot ons redding.
4O God, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word.
5Here, God, Heerser oor alle magte, hoe lank gaan u woede nog smeul teen die gebed van u volk?
6U het hulle brood van trane laat eet; U het hulle trane in oormaat laat drink.
7U het ons 'n bron van stryd gemaak vir ons bure, ons vyande dryf met ons die spot.
8O God, Heerser oor alle magte, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word.
9U het in Egipte 'n wingerdstok uitgetrek; U het nasies verdryf en hom geplant.
10U het voor hom skoongemaak; hy het wortel geskiet en die land vol gerank.
11Berge is deur sy skadu oordek, die magtige seders deur sy takke.
12Hy het sy ranke uitgestoot tot by die see, en sy lote tot by die Rivier.
13Waarom het u sy tuinmuur afgebreek, sodat almal wat daar verbygaan, sy vrugte pluk?
14Wildevarke uit die bos vreet hom kaal; bosvarke uit die veld vreet hom op.
15O God, Heerser oor alle magte, kom tog terug! Kyk uit die hemel en sien dit raak! Versorg hierdie wingerdstok,
16die steggie wat u regterhand geplant het, die spruit wat U vir Uself grootgemaak het.
17Hy is met vuur verbrand, afgekap. Laat hulle vergaan weens die bedreiging van u teenwoordigheid.
18Hou tog u hand oor die man aan u regterkant, oor die mensekind wat U vir Uself grootgemaak het.
19Ons sal nie van U wyk nie. Maak ons lewend! Net ú Naam sal ons aanroep.
20Here, God, Heerser oor alle magte, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word.