Psalms 78AFR20

1'n Maskiel. Van Asaf. My volk, luister na my onderrig; spits julle ore vir die woorde uit my mond.

2Ek gaan my mond oopmaak vir 'n spreuk, ek gaan raaisels uit die verlede na vore haal.

3Wat ons gehoor het en weet, wat ons voorouers aan ons vertel het,

4mag ons nie vir ons kinders wegsteek nie. Aan die volgende geslag sal ons die roemryke dade van die Here vertel: van sy mag en die wonders wat Hy gedoen het.

5Hy het 'n bepaling neergelê in Jakob, 'n wet vasgestel in Israel: Wat Hy ons voorouers beveel het, moet aan hulle kinders bekend gemaak word,

6sodat die volgende geslag dit sal weet, die kinders wat nog gebore moet word, sal opstaan en dit aan hulle kinders vertel,

7en sodat húlle weer hulle vertroue in God kan stel, God se dade nie vergeet nie en kan hou by sy bevele.

8Hulle mag nie soos hulle voorouers wees nie – 'n hardkoppige en opstandige geslag, wie se harte onbestendig was en wie se gees nie aan God getrou was nie.

9Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het teruggeval op die dag van die geveg.

10Hulle het nie God se verbond nagekom nie; en sy wet het hulle geweier om te volg.

11Hulle het sy dade vergeet, sy wonders wat Hy hulle laat sien het.

12Voor die oë van hulle voorouers het Hy wonders gedoen in Egipteland, op die vlakte van Soan.

13Hy het die see oopgekloof en hulle laat deurtrek; Hy het die water laat opdam soos 'n wal.

14Hy het hulle met 'n wolk gelei bedags, en die hele nag met die lig van vuur.

15Hy het rotse oopgekloof in die woestyn, en hulle baie laat drink, asof daar 'n vloed was.

16Hy het strome uit die rotswand laat vloei, en water laat afloop soos riviere.

17Maar hulle het steeds voortgegaan om teen Hom te sondig, om in die dorre streek teen die Allerhoogste opstandig te wees.

18Hulle het God doelbewus uitgedaag deur kos te vra wat hulle begeer.

19Hulle het hulle teen God uitgespreek; hulle het gesê: “Kan God 'n tafel dek in die woestyn?

20Kyk, Hy het 'n rots geslaan en water het uitgestroom, spruite het gevloei. Sou Hy ook brood kon gee of vleis voorberei vir sy volk?”

21Daarom, toe die Here dit hoor, het Hy woedend geword, en 'n vuur het uitgebreek teen Jakob. Ook het sy toorn opgevlam teen Israel,

22omdat hulle nie in God geglo het nie, en nie op sy verlossing vertrou het nie.

23Hy het die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak.

24Hy het manna om te eet op hulle laat reën, koring van die hemel het Hy aan hulle gegee,

25die brood van engele – mense het dit geëet. Padkos het Hy vir hulle gestuur – tot versadiging toe.

26Hy het die oostewind in die hemel laat losbars; en deur sy krag die suidewind laat waai.

27Hy het vleis soos stof op hulle laat neerreën, vlieënde voëls soos die sand van die oseane.

28Hy het dit binne-in sy kamp laat val, reg rondom sy verblyfplek.

29Hulle het geëet en was heeltemal versadig; Hy het wat hulle begeer het, vir hulle gebring.

30Hulle het nog nie weggedraai van wat hulle begeer het nie, hulle kos was nog in hulle monde,

31toe laai God se toorn al teen hulle op. Hy het onder hulle vettes 'n slagting aangerig en die jong manne van Israel op hulle knieë gedwing.

32Ten spyte hiervan het hulle steeds gesondig en nie aan sy wonders geglo nie.

33So het Hy hulle dae laat eindig in nietigheid, en hulle jare in verskrikking.

34Wanneer Hy 'n slagting onder hulle aangerig het, het hulle Hom geraadpleeg; hulle het teruggedraai en God gesoek.

35Hulle het onthou dat God hulle rots is, dat God, die Allerhoogste, hulle losser is.

36Maar hulle het Hom probeer oorreed met die mond en het vir Hom bly lieg met die tong.

37Hulle harte was nie standvastig teenoor Hom nie; hulle was nie getrou aan sy verbond nie.

38Maar Hy is barmhartig; Hy bedek hulle sondeskuld; Hy delg hulle nie uit nie. Hy hou dikwels sy toorn terug en laat nie sy woede ten volle ontwaak nie.

39Hy dink daaraan dat hulle vlees is, net maar 'n asemteug wat gaan en nie weer terugkeer nie.

40Hoe dikwels was hulle nie opstandig teen Hom in die woestyn nie, het hulle Hom nie gegrief in die wildernis nie.

41Hulle het God weer uitgedaag, en die •Heilige van Israel gekrenk.

42Hulle het nie onthou wat sy hand gedoen het nie, dié dag toe Hy hulle vrygekoop het van die teenstander,

43toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders op die vlakte van Soan.

44Hy het hulle riviere in bloed verander, ook hulle strome – hulle kon glad nie daarvan drink nie.

45Hy het steekvlieë onder hulle losgelaat, en dit het hulle geteister; ook paddas, en dit het verwoesting onder hulle aangerig.

46Hy het hulle opbrengs aan kaalvretersprinkane gegee, die vrug van hulle arbeid aan treksprinkane.

47Hy het hulle wingerdstokke deur hael vernietig, en hulle wildevyebome deur 'n verwoestende vloed.

48Hy het hulle beeste aan hael oorgegee, en hulle vee aan weerligstrale.

49Hy het sy brandende toorn onder hulle ingestuur: gramskap, vervloeking en benoudheid – 'n hele afdeling boodskappers van onheil.

50Hy het die weg gebaan vir sy toorn; Hy het hulle nie van die dood weggehou nie, maar hulle lewens aan pessiektes uitgelewer.

51Hy het elke •eersgeborene in Egipte getref, die eerstelinge van hulle manlike krag in die tente van Gam.

52Maar soos kleinvee het Hy sy volk laat wegtrek. Toe het Hy hulle soos 'n kudde in die woestyn gelei,

53Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie verskrik was nie. Hulle vyande is deur die see oorstroom.

54Hy het hulle na sy •heilige grondgebied gebring, na die berg wat sy regterhand verwerf het.

55Hy het nasies voor hulle uit verdryf. Hy het wat aan hulle behoort, met 'n maatlyn opgemeet as erfdeel, en die stamme van Israel in húlle tente laat woon.

56Maar hulle was opstandig en het God, die Allerhoogste, uitgedaag; hulle het nie sy bepalings nagekom nie.

57Hulle was afvallig en ontrou soos hulle voorouers; hulle het verander in 'n slap boog.

58Hulle het Hom uitgetart met hulle offerhoogtes, met hulle afgodsbeelde het hulle Hom ontstel.

59Toe God dit hoor, het Hy woedend geword en het Israel heeltemal verwerp.

60Hy het die tabernakel by Silo prysgegee, die tent waarin Hy tussen mense gewoon het.

61Hy het sy krag in ballingskap oorgegee, sy heerlikheid in die hande van teenstanders.

62Hy het sy volk aan die swaard uitgelewer; Hy het woedend geword vir sy eiendom.

63Hulle jong manne is deur vuur verteer, en hulle jongmeisies is nie met liedere geprys nie.

64Hulle priesters het deur die swaard geval en hulle weduwees kon nie rou nie.

65Toe het my Heer asof uit die slaap wakker geword, soos 'n held uit die roes van wyn.

66Hy het sy teenstanders teruggedryf en ewige bespotting oor hulle gebring.

67Hy het die tent van Josef verwerp en die stam van Efraim nie gekies nie.

68Maar Hy het die stam van Juda gekies, die berg Sion wat Hy liefhet.

69Hy het sy heiligdom soos die hoogste hemele gebou, soos die aarde, wat Hy vir altyd gevestig het.

70Hy het Dawid, sy dienskneg, gekies, en hom van die skaapkrale af weggeneem.

71Agter die lammerooie het Hy hom laat haal om Jakob, sy volk, op te pas, Israel, sy eiendom.

72Dawid het hulle met 'n opregte hart opgepas; met die vaardigheid van sy hande het hy hulle gelei.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 78.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.