1Vir die •musiekleier. Op Jedoetoen. Van Asaf. 'n Psalm.
2Ek roep hard na God, ek roep om hulp. Ek roep hard na God, sodat Hy my moet hoor.
3In die tyd van my nood soek ek my Heer. In die nag hou ek onvermoeid my hande uitgestrek; ek is ontroosbaar.
4Dink ek aan God, dan kreun ek; kla ek, dan weifel my gees.
5U hou my ooglede oop; ek is ontsteld en kan nie praat nie.
6Ek dink terug aan vervloë dae, aan vergange jare.
7Ek wil snags aan my harpspel dink; met my hart wil ek kla en my gees deursoek.
8Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot en ons nooit weer aanvaar nie?
9Is dit vir altyd die einde van sy troue liefde? Het sy boodskappe van geslag tot geslag tot 'n einde gekom?
10Het God vergeet om genadig te wees, of het Hy in toorn sy ontferming opgehef?
11Toe het ek gesê: “Dit is wat my kwel – die verandering van die Allerhoogste se regterhand.”
12Ek sal die Here se dade onthou, ja, ek wil u wonders van vroeër onthou.
13Ek sal oor al u werke mymerend prewel, oor u handelinge wil ek nadink:
14O God, u weg is •heilig. Wie is so 'n groot god soos God?
15U is die God wat wonders doen, U het u krag onder die volke bekend gemaak.
16U het u volk met die krag van u arm losgekoop – die kinders van Jakob en Josef.
17Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, dit het ineengekrimp; ja, die •oerwaters het gesidder.
18Wolke het water uitgegiet, donderwolke het gedreun, ja, u pyle het heen en weer geflits.
19Die geluid van u donderweer was in die stormwind, weerligstrale het die wêreld verlig, die aarde het gesidder en gebeef.
20Deur die see loop u pad, u weg deur massas water, maar u spore was onherkenbaar.
21U het, deur die hand van Moses en Aäron, u volk soos kleinvee gelei.