1Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Psalm. Van Asaf. 'n Lied.
2God is in Juda bekend, in Israel is sy Naam groot.
3In Salem was sy hut, sy skuilplek in Sion.
4Daar het Hy brandpyle uit die boog, skild en swaard en steekspies, stukkend gebreek.
5Stralend was U, magtiger as die berge wat die prooi moes wees.
6Dié met dapper harte het self die buit geword; hulle het die ewige slaap ingegaan. Nie een van die bekwame manne kon 'n hand lig nie.
7Vanweë u dreiging, o God van Jakob, het die bemanning van strydwaens en die perde in 'n beswyming geraak.
8U – ontsagwekkend is U! Wie kan voor U bly staan wanneer U toornig is?
9Uit die hemel het U die oordeel aangekondig. Die aarde het gevrees en stil geword
10toe God opstaan om die vonnis te vel, om al die verdruktes van die land te verlos.
11Ja, die woede teen mense strek U tot lof; met die oorblyfsel van die woedebuie omgord U Uself.
12Lê geloftes af aan die Here julle God, en kom dit na. Almal wat rondom Hom is, moet geskenke bring vir die Ontsagwekkende.
13Hy ontneem •leiers die moed – Hy wat vreesaanjaend is vir die konings van die aarde.