1Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie.” 'n Psalm. Van Asaf. 'n Lied.
2Ons prys U, o God, ons prys U; u Naam is naby. Mense vertel van u wonderwerke.
3God sê: “Wanneer die tyd aanbreek wat Ek bepaal het, sal Ek self met billikheid oordeel.
4Die aarde en al sy bewoners kan wankel – Ek self het sy pilare gevestig.”
5Vir verwaande mense sê ek: “Moenie verwaand wees nie.” Vir die goddeloses: “Moenie horings oplig nie.
6Moenie julle horings teen die hemel lig nie; moenie verwaand, met 'n stywe nek, praat nie.
7Want verheffing kom nie van waar die son opkom of van waar dit ondergaan nie, en ook nie van die woestyn af nie.
8Nee, God is regter: Die een verneder Hy, die ander verhef Hy.”
9Ja, daar is 'n beker in die hand van die Here met wyn wat gegis het en vol kruie is. Hy skink daaruit. Al die goddeloses van die aarde sal dit moet drink, dit tot die droesem moet ledig.
10En ek, ek sal dit altyd verkondig, ek sal die God van Jakob besing, wat sê:
11“Al die horings van goddeloses sal Ek afbreek, maar die horings van regverdiges sal opgelig word.”