Psalms 74AFR20

1'n Maskiel. Van Asaf. Waarom, o God, verstoot U, smeul u toorn vir altyd teen die kleinvee van u weiplek?

2Dink aan u volk wat byeen is, wat U in die voortyd gekoop het, wat U as stam, as u eiendom, losgekoop het; dink aan die berg Sion, waar U gewoon het.

3Klim tog op na die ewige puinhope. Die vyand het alles verwoes in die heiligdom.

4U teenstanders het gebrul binne-in u ontmoetingsplek; hulle het hulle baniere as oorwinningstekens opgerig.

5Dit is bekend: Toe hulle saam met die fynhout byle teen die trappe op gevat het,

6het hulle ook die paneelwerk alles afgestroop met handbyle en breekysters.

7Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot op die grond het hulle die woonplek van u Naam ontheilig.

8Hulle het in hulle hart gesê: Ons moet alles gelyktydig vernietig. Hulle het al die ontmoetingsplekke van God in die land verbrand.

9Ons sien nie meer ons tekens nie, daar is nie meer 'n profeet nie; en niemand by ons weet hoe lank nog nie.

10Hoe lank, o God, gaan die teenstander nog die spot dryf, gaan die vyand u Naam vir ewig verag?

11Waarom hou U u hand, u regterhand, terug? Trek dit uit die vou van u kleed! Maak 'n einde hieraan!

12God is my koning van die vroegste tye af, Hy wat verlossingsdade verrig hier op aarde.

13Dit is U wat met u krag die see geskud het, die koppe van seemonsters op die water verpletter het,

14die koppe van die Leviatan verbrysel het, dit as kos vir woestynbewoners gegee het.

15U het fontein en stroom oopgebreek; U het standhoudende riviere laat opdroog.

16Aan U behoort die dag; ook die nag behoort aan U. U het die maan en die son gevestig.

17U het al die grense van die aarde vasgestel; somer en winter, U het dit gevorm.

18Dink daaraan dat die vyand die spot dryf, Here, dat 'n dwase volk u Naam verag.

19Moet tog nie die lewe van u tortelduif aan wilde diere oorgee nie; die lewens van u magteloses – moet dit nie vir ewig vergeet nie.

20Hou die verbond in die oog, want die donker plekke van die wêreld is vol nedersettings van geweld.

21Laat die onderdruktes nie in vernedering terugkeer nie. Die magteloses en behoeftiges sal u Naam loof.

22Staan tog op, o God, verdedig u regsaak! Dink daaraan dat U die hele dag deur dwase gespot word.

23Moenie die stem van u teenstanders vergeet nie, die rumoer wat voortdurend opklink van hulle wat teen U opstaan.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 74.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.