Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 74

:
Afrikaans - AFR20
1 'n Maskiel. Van Asaf. Waarom, o God, verstoot U, smeul u toorn vir altyd teen die kleinvee van u weiplek?
2 Dink aan u volk wat byeen is, wat U in die voortyd gekoop het, wat U as stam, as u eiendom, losgekoop het; dink aan die berg Sion, waar U gewoon het.
3 Klim tog op na die ewige puinhope. Die vyand het alles verwoes in die heiligdom.
4 U teenstanders het gebrul binne-in u ontmoetingsplek; hulle het hulle baniere as oorwinningstekens opgerig.
5 Dit is bekend: Toe hulle saam met die fynhout byle teen die trappe op gevat het,
6 het hulle ook die paneelwerk alles afgestroop met handbyle en breekysters.
7 Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot op die grond het hulle die woonplek van u Naam ontheilig.
8 Hulle het in hulle hart gesê: Ons moet alles gelyktydig vernietig. Hulle het al die ontmoetingsplekke van God in die land verbrand.
9 Ons sien nie meer ons tekens nie, daar is nie meer 'n profeet nie; en niemand by ons weet hoe lank nog nie.
10 Hoe lank, o God, gaan die teenstander nog die spot dryf, gaan die vyand u Naam vir ewig verag?
11 Waarom hou U u hand, u regterhand, terug? Trek dit uit die vou van u kleed! Maak 'n einde hieraan!
12 God is my koning van die vroegste tye af, Hy wat verlossingsdade verrig hier op aarde.
13 Dit is U wat met u krag die see geskud het, die koppe van seemonsters op die water verpletter het,
14 die koppe van die Leviatan verbrysel het, dit as kos vir woestynbewoners gegee het.
15 U het fontein en stroom oopgebreek; U het standhoudende riviere laat opdroog.
16 Aan U behoort die dag; ook die nag behoort aan U. U het die maan en die son gevestig.
17 U het al die grense van die aarde vasgestel; somer en winter, U het dit gevorm.
18 Dink daaraan dat die vyand die spot dryf, Here, dat 'n dwase volk u Naam verag.
19 Moet tog nie die lewe van u tortelduif aan wilde diere oorgee nie; die lewens van u magteloses moet dit nie vir ewig vergeet nie.
20 Hou die verbond in die oog, want die donker plekke van die wêreld is vol nedersettings van geweld.
21 Laat die onderdruktes nie in vernedering terugkeer nie. Die magteloses en behoeftiges sal u Naam loof.
22 Staan tog op, o God, verdedig u regsaak! Dink daaraan dat U die hele dag deur dwase gespot word.
23 Moenie die stem van u teenstanders vergeet nie, die rumoer wat voortdurend opklink van hulle wat teen U opstaan.