Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 69

:
Afrikaans - AFR20
1 Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. Van Dawid.
2 Verlos my, o God, want water het tot by my keel gekom.
3 Ek het weggesink in diep modder, en daar is geen vastrapplek nie; ek het in diep water beland, en die vloed gaan my meesleur.
4 Ek is uitgeput van my geroep, my keel is al hees. My is vermoeid van wag op my God.
5 Meer as die hare op my kop is hulle wat my sonder rede haat. Hulle wat my wil vernietig, is ontelbaar, hulle wat my ten onregte haat. Wat ek nie geroof het nie, moet ek nou teruggee.
6 O God, U self ken my dwaasheid; my skuld is nie vir U verborge nie.
7 Laat hulle wat op U wag nie deur my toedoen beskaamd staan nie, Here my Heer, Heerser oor alle magte. Laat hulle wat U soek nie deur my toedoen verneder word nie, o God van Israel.
8 Dit is immers oor U dat ek bespotting moet verduur, dat my gesig met skaamte bedek is.
9 Ek is vervreem van my broers, 'n vreemdeling vir my moeder se kinders.
10 want die hartstog vir u huis het my verteer. Die bespotting waarmee hulle U bespot, moes ek verduur.
11 Toe ek getreur het terwyl ek vas, is ek bespot.
12 Toe ek rouklere aangetrek het, het ek vir hulle 'n spotnaam geword.
13 Dié wat in die stadspoort sit, dryf die spot met my, en die liedjies van dronkaards ook.
14 Maar ek rig my gebed tot U, Here, in 'n tyd van welwillendheid. O God, antwoord my met u betroubare verlossing, op grond van u oorvloedige troue liefde.
15 Red my uit die modder; moenie dat ek wegsink nie. Ek wil vrykom van my haters, van die diep water.
16 Laat vloedwater my nie meesleur nie, die diepte my nie verswelg nie. Laat die put nie sy mond bo my toemaak nie.
17 Antwoord my, Here, want u troue liefde is goed; draai na my in u groot ontferming.
18 Moenie u gesig vir u dienskneg verberg nie, want ek is in die nood antwoord my gou.
19 Bly tog naby my, bevry my lewe; koop my vry, want ek het vyande.
20 U ken self die bespotting, smaad en vernedering wat ek verduur; voor U staan al my teenstanders.
21 Bespotting het my hart gebreek, ek is swak. Ek het medelye verwag, maar tevergeefs; mense om my te troos, maar ek kon niemand vind nie.
22 Hulle het gif in my kos gesit, en vir my dors het hulle my asyn laat drink.
23 Mag hulle tafel voor hulle 'n vangnet word, 'n valstrik vir hulle vriende.
24 Mag hulle dof word, sodat hulle nie kan sien nie. Laat hulle heupe voortdurend meegee!
25 Stort u verontwaardiging oor hulle uit; laat u brandende toorn hulle inhaal.
26 Mag hulle kamp verlate wees; mag daar in hulle tente geen bewoner wees nie.
27 Want dié wat deur U geslaan is, word deur hulle agtervolg, en oor die pyn van dié wat deur U gewond is, het hulle die monde vol.
28 Voeg sondeskuld by hulle sondeskuld, laat hulle nie toegang tot u •geregtigheid nie.
29 Mag hulle uitgewis word uit die •boekrol van die lewe; mag hulle nie saam met die regverdiges opgeteken word nie.
30 Ek is magteloos en verkeer in pyn; mag u verlossing, o God, my beskerm.
31 Ek wil die Naam van God loof met 'n lied; ek wil sy Naam groot maak met 'n danklied.
32 Dit sal vir die Here aanneemliker wees as beeste, as bulle met horings en gesplete hoewe.
33 Die verdruktes sien dit; hulle sal bly wees. Julle wat God raadpleeg, mag julle harte leef,
34 want die Here luister na die behoeftiges; Hy minag nie sy gevangenes nie.
35 Hemel en aarde moet Hom loof, oseane en alles wat daarin beweeg;
36 want God gaan Sion verlos, Hy gaan die stede van Juda herbou. Hulle sal daar woon en die land besit.
37 Die nageslag van sy diensknegte sal dit erf; hulle wat sy Naam liefhet, sal daarin woon.