Psalms 68AFR20

1Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied.

2God staan op, sy vyande spat uiteen, sy haters vlug van Hom weg.

3Soos rook weggewaai word, so waai U hulle weg; soos was smelt voor 'n vuur, so verdwyn die goddeloses voor God.

4Maar die regverdiges is bly, hulle jubel voor God, hulle juig van vreugde.

5Sing vir God, besing sy Naam! Verheerlik Hom wat op die wolke ry – Here is sy Naam – jubel voor Hom!

6'n Vader vir vaderloses, 'n regter vir weduwees, is God in sy •heilige woonplek.

7God laat eensames weer in 'n huisgesin woon, Hy lei gevangenes uit na voorspoed, maar hardkoppiges woon in 'n verskroeide land.

8O God, toe U voor u volk uitgegaan het, toe U vooruitgestap het in die wildernis,

9het die aarde geskud. Ook die hemel het gedrup voor God, die Een van Sinai, voor God, die God van Israel.

10Milde reën het U, o God, laat uitsak oor u erfdeel; wat uitgeput was, het U laat herleef –

11u woonplek waarin hulle woon. In u goedheid het U dit gereedgemaak vir magteloses, o God.

12My Heer het 'n boodskap uitgestuur; die vroue wat die goeie tyding bring, is 'n groot skare:

13“Die konings met leërs vlug, hulle vlug! Die mooi vroue tuis verdeel die buit.

14As julle tussen die saalsakke gaan rus – daar is duiwe, hulle vlerke is met silwer bedek en hulle penvere met geelgroen goud.”

15Wanneer die Almagtige die konings in die land uitmekaar jaag, sneeu dit op die berg Salmon.

16Massiewe bergreeks, bergrug van Basan, bergreeks met pieke, bergrug van Basan,

17waarom kyk julle met afguns, bergreekse met pieke, na die berg wat God gekies het as sy woonplek? Dit is ook waar die Here vir altyd sal woon.

18Die strydwamag van God is tienduisende, duisende der duisende. My Heer het van Sinai af by die heiligdom aangekom.

19U het opgevaar na die hoogte om daar te woon, Here God, nadat U gevangenes weggevoer het en skatplig gevorder het by mense, selfs by hardkoppiges.

20My Heer moet geprys word! Dag ná dag dra Hy ons, God is ons verlossing.

21God is vir ons die God van verlossing, by die Here, my Heer, is daar uitkoms uit die dood.

22God sal beslis die koppe van sy vyande verpletter, die harige hoofde van hulle wat in sondeskuld volhard.

23My Heer het gesê: “Uit Basan sal Ek hulle terugbring, Ek sal hulle terugbring uit die dieptes van die see,

24sodat jy jou voete in bloed kan afspoel, en die tonge van jou honde deel kan kry aan die vyande.”

25Mense sien u optogte, o God, die optogte van my God, my Koning, by die heiligdom:

26Vooraan is die sangers, daarna dié met snaarinstrumente tussen jongmeisies wat tamboeryne slaan.

27Prys God in die byeenkomste, die Here by die bron van Israel.

28Daar is Benjamin, die jongste, hulle heerser, die leiers van Juda in hulle menigte, die leiers van Sebulon, die leiers van Naftali.

29Jou God het krag vir jou beskik. Toon u krag, o God, U wat in ons belang opgetree het

30vanuit u •tempel bo Jerusalem. Vir U sal konings geskenke bring.

31Bestraf die gediertes van die riete, die trop bulle tussen die kalwers van volke wat mense vertrap vir stukke silwer. Jaag volke uitmekaar wat graag oorlog voer.

32Bronsware moet uit Egipte kom. Die Kussiete sal dit vinnig aandra vir God.

33Koninkryke van die aarde, sing vir God; besing my Heer,

34Hom wat ry deur die oeroue, hoogste hemel. Kyk, Hy laat sy stem, 'n magtige stem, weerklink.

35Erken die krag van God, dat Hy hoog verhewe oor Israel is en dat sy krag in die wolke lê.

36God wek ontsag in jou heiligdomme, Israel; die God van Israel, Hy gee krag en sterkte aan die volk. God moet geprys word!

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 68.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.