1Vir die •musiekleier. 'n Lied. 'n Psalm. Juig tot eer van God, almal op aarde!
2Besing die eer van sy Naam; betoon eer met 'n loflied aan Hom.
3Sê vir God: “Hoe ontsagwekkend is u dade! Vanweë die grootheid van u krag, veins u vyande onderdanigheid aan U.
4Almal op aarde buig voor U in aanbidding. Hulle besing U, hulle besing u Naam.”
5Kom kyk na God se werke – ontsagwekkend is sy dade onder die mense.
6Hy het 'n see in droë grond verander. Hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar kon ons ons in Hom verheug,
7Hy wat ewig heers deur sy mag, wie se oë die nasies deurkyk. Hardkoppiges moet hulleself nie verhef nie.
8Prys ons God, volke; laat die klank van sy loflied opklink –
9Hy wat aan ons lewe gee, nie toelaat dat ons voete swik nie.
10Ja, U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos 'n mens silwer louter.
11U het ons in 'n vangnet laat beland, 'n las op ons skouers gelê.
12U het mense oor ons koppe laat ry; ons het deur vuur en water gegaan, maar U het ons na oorvloed uitgelei.
13Ek sal u huis binnegaan met •brandoffers; ek sal aan U my geloftes betaal
14wat my lippe uitgespreek en my mond beloof het toe ek in die nood was.
15Brandoffers van vetgemaakte skape sal ek aan U bring, saam met die offerrook van ramme. Ek sal beeste saam met bokke offer.
16Kom luister, almal wat vir God ontsag het, sodat ek kan vertel wat Hy vir my gedoen het.
17Met my mond het ek Hom aangeroep; lofprysing was gereed op my tong.
18Wat onreg betref, as ek dit in my hart sou gewaar, sou my Heer nie geluister het nie.
19Maar God het geluister; Hy het ag geslaan op die klank van my gebed.
20God moet geprys word, Hy wat my gebed nie afgewys het, sy troue liefde van my nie weerhou het nie.