1Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid.
2Luister, o God, na my stem as ek kla; hou my lewe veilig teen die verskrikking van die vyand.
3Hou my weg van die kring van kwaaddoeners, weg van die onrus van hulle wat onreg pleeg,
4dié wat hulle tonge so skerp maak soos 'n swaard, wat aanlê met hulle pyle van bitter woorde
5om uit wegkruipplekke op 'n onskuldige te skiet. Onverwags skiet hulle op hom. Hulle is nie bang nie.
6Hulle praat mekaar moed in met bose woorde; hulle spreek af om strikke te stel. Hulle sê: “Wie sal dit raaksien?
7Sal mense 'n bose opset ondersoek? Ons is gereed; dit is 'n fyn beplande set, en 'n mens se binneste en hart is onpeilbaar.”
8Maar onverwags skiet God hulle met 'n pyl; hulle is gewond!
9Dit bring hulle elkeen tot 'n val. Hulle tonge getuig teen hulle. Almal wat hulle sien, sidder.
10Dan word alle mense met vrees vervul en maak God se dade bekend; hulle kry insig in sy werk.
11Regverdiges sal hulle in die Here verheug en by Hom skuil. Almal wie se harte opreg is, sal in Hom roem.