1Vir die •musiekleier. Met snarespel. Van Dawid.
2Hoor my klaagroep, o God, luister aandagtig na my gebed.
3Van die einde van die aarde roep ek na U, wanneer my moed my begewe. Lei my na 'n rots wat vir my te hoog is;
4want U is vir my 'n skuilplek, 'n versterkte toring teen die vyand.
5Ek wil vir altyd in u tent vertoef, ek wil skuil onder die beskutting van u vlerke.
6U is immers die Een wat luister na my geloftes, o God; U gee 'n erfdeel aan hulle wat vir u Naam ontsag het.
7Vermeerder tog die dae van die koning se lewe, mag sy lewensjare geslagte lank duur,
8mag hy altyd voor God regeer. Voorsien toewyding en waarheid, laat dit oor hom wag hou!
9Só wil ek u Naam vir altyd besing, om my geloftes dag ná dag te betaal.