Psalms 57
1 Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. 'n Miktaam. Toe hy voor Saul in die grot in gevlug het.
2 Wees my genadig, o God, wees my genadig, want by U skuil ek; in die skadu van u vlerke sal ek skuil totdat die vernietiging verby is.
3 Ek roep na God, die Allerhoogste, na God, wat namens my vergeld.
4 Hy sal uit die hemel hulp stuur en my verlos. Hy verwar hom wat my teister. God sal sy troue liefde en sy waarheid stuur.
5 Ek is tussen leeus; ek lê tussen hulle wat mense verslind – hulle tande is spiese en pyle, hulle tonge is skerp swaarde.
6 Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid oor die hele aarde.
7 'n Net het hulle gespan vir my voete – hulle het my neerslagtig gemaak. Hulle het 'n vangkuil voor my gegrawe – hulle het self daarin geval.
8 My hart is standvastig, o God, my hart is standvastig. Ek wil sing, ek wil lofsing.
9 Word wakker, my gemoed! Word wakker, harp en lier! Ek wil die dagbreek wakker maak.
10 Ek wil U dank onder die volke, my Heer, ek wil U besing onder die nasies;
11 want groot, tot aan die hemel, reik u troue liefde; tot by die wolke is u waarheid.
12 Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid oor die hele aarde.