1Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. 'n Miktaam.
2Magtiges, is julle werklik besig met regspraak, oordeel julle mense billik?
3Selfs in julle harte beoefen julle onreg; in die land maak die geweld van julle hande vir julle die pad skoon.
4Vanaf die moederskoot dwaal goddeloses af, vanaf hulle geboorte raak leuenaars die pad byster.
5Hulle gif is dieselfde as slanggif; hulle is soos 'n dowe horingslang wat sy ore toestop,
6wat nie luister na die besweerders se stem nie – hulle wat bedrewe is in die besweerkuns.
7O God, breek hulle tande in hulle monde, verbrysel die kake van die jong leeus, Here.
8Mag hulle verdwyn soos water wat wegvloei; mag Hy hulle vertrap soos gras. Mag hulle verdroog
9soos 'n slak wat in sy slym seil, soos misgeboortes van vroue wat nooit die son sien nie.
10Voordat hulle dit besef, is hulle soos dorings, soos steekdorings wat uitgeroei word, soos bossies wat die stormwind wegwaai.
11Die regverdige sal bly wees wanneer hy vergelding sien; hy sal sy voete afspoel in die bloed van die goddelose.
12Die mense sal sê: “Daar ís beloning vir die regverdige, daar ís 'n God wat reg laat geskied in die land.”