Psalms 55AFR20

1Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Maskiel. Van Dawid.

2O God, luister na my gebed, verberg U nie vir my smeekbede nie.

3Luister tog aandagtig na my en antwoord my. Klaend dwaal ek rond; ek is verward

4oor die geraas van vyande, oor die getier van goddeloses, want hulle laat onreg op my neerstort, en in toorn is hulle vyandig teenoor my.

5My hart krimp ineen in my binneste, doodsangs het my oorval.

6Vrees en bewing oorweldig my, 'n rilling trek deur my liggaam.

7Ek het gedink, het ek maar vlerke gehad soos 'n duif! Ek sou wegvlieg en 'n tuiste vind;

8ja, ek sou ver weggaan om te ontvlug; ek sou in die woestyn oornag.

9Ek sou haastig vir my 'n skuilplek soek, weg van die rukwind, van die hewige storm.

10My Heer, verwar, verdeel hulle tonge, want in die stad sien ek net geweld en stryd.

11Dag en nag doen dit die rondte op die stadsmure, en binne die stad is daar onreg en geweld.

12Vernietiging is binne-in die stad, verdrukking en bedrog wyk nie van die stadsplein nie.

13Dit is immers nie 'n vyand wat my uittart nie – ek sou dit nog kon verduur; dit is nie my hater wat selfvoldaan is teenoor my nie; ek sou my vir hom kon versteek.

14Maar dat dit jy is, 'n mens soos ek, my boesemvriend en vertroueling –

15ons wat vertroulike gesprekke saam geniet het terwyl ons in die huis van God loop in die gedrang van mense!

16Mag die dood hulle onverhoeds betrap, mag hulle lewendig afdaal na die •doderyk; want boosheid is by hulle tuis, dit is in hulle midde.

17Ek, ek roep tot God, en die Here sal my verlos.

18In die aand, in die oggend en in die middag het ek gekla en gesteun; maar Hy het my stem gehoor.

19Met vrede koop Hy my lewe vry van 'n geveg wat teen my gerig is, al is hulle in hulle hordes teen my.

20God hoor en sal hulle verneder – Hy regeer immers van die voortyd af, – hulle by wie daar geen verandering is nie, en wat nie ontsag het vir God nie.

21Teen sy vriende het hy sy hand uitgesteek; hy het sy verbond geskend.

22Sy mond is gladder as botter, maar sy hart is die ene oorlog. Sy woorde is strelender as olie, maar dit is ontblote swaarde.

23Werp jou las op die Here; Hy sal jou versorg, Hy sal nooit toelaat dat die regverdige wankel nie.

24U, o God, laat hulle afdaal in die put van die graf. Die manne van bloed en bedrog haal nie eers die helfte van hulle jare nie. Maar ek, ek vertrou op U.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 55.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.