1Vir die •musiekleier. Met fluitspel. 'n Psalm. Van Dawid.
2Luister tog na my woorde, Here; hoor my versugting!
3Slaan ag op my noodkreet, my Koning en my God, want tot U bid ek!
4Here, in die oggend hoor U my stem, in die oggend lê ek my saak aan U voor, en wag.
5Ja, U is 'n God wat goddeloosheid nie duld nie; boosheid kan by U nie vertoef nie.
6Verwaande mense kan voor U oë nie staande bly nie; U het 'n weersin in almal wat onreg pleeg.
7U laat leuenaars ten gronde gaan; die Here verafsku mense wat bloed vergiet en bedrog pleeg.
8Maar ék mag op grond van u oorvloedige troue liefde na u huis kom; uit ontsag vir U buig ek in aanbidding na u •heilige •tempel.
9Lei my deur u geregtigheid, Here, omdat ek teenstanders het; maak u pad reguit voor my.
10Daar kom immers niks betroubaars uit hulle monde nie, hulle binneste huisves vernietiging, hulle kele is 'n oop graf, met hulle tonge vlei hulle.
11Laat hulle boet, o God, laat hulle deur hulle eie planne tot 'n val kom. Dryf hulle uitmekaar oor hulle baie oortredings, want hulle is in opstand teen U.
12Maar laat almal wat by U skuil, bly wees; laat hulle vir altyd juig en sprei U beskerming oor hulle uit. Laat dié wat u Naam liefhet, oor U jubel.
13Want U, Here, U seën die •regverdige, soos 'n skild omring U hom met welwillendheid.