Psalms 48
1 'n Lied. 'n Psalm. Van die Koragiete.
2 Groot is die Here en besonder lofwaardig in die stad van ons God, sy •heilige berg.
3 Indrukwekkend hoog, 'n vreugde vir die hele land is die berg Sion in die verre noorde van die stad van die groot Koning.
4 God is in die vestings van die stad. Hy is bekend as 'n toevlugsoord.
5 Want kyk, die konings het byeengekom, hulle het saam opgetrek.
6 Die oomblik toe hulle dit sien, was hulle stomgeslaan; verskrik het hulle op die vlug geslaan.
7 Vrees het hulle daar beetgepak, angs, soos 'n vrou wat geboorte gee.
8 Met 'n oostewind het U handelskepe stukkend gebreek.
9 Wat ons gehoor het, het ons ook ervaar in die stad van die Here, Heerser oor alle magte, in die stad van ons God: God het haar gevestig vir altyd.
10 In u •tempel, o God, dink ons na oor u troue liefde.
11 Soos u Naam, o God, so strek u lof tot aan die eindes van die aarde, u regterhand is vol •geregtigheid.
12 Die berg Sion is verheug, die dogters van Juda juig oor u beslissings.
13 Loop rondom Sion, gaan reg rondom haar; tel haar torings,
14 kyk goed na haar verdedigingswal, bekyk haar vesting, sodat julle dit vir die toekomstige geslag kan vertel:
15 Ja, hierdie God is ons God vir altyd en ewig; Hý sal ons lei vir ewig.