1'n Lied. 'n Psalm. Van die Koragiete.
2Groot is die Here en besonder lofwaardig in die stad van ons God, sy •heilige berg.
3Indrukwekkend hoog, 'n vreugde vir die hele land is die berg Sion in die verre noorde van die stad van die groot Koning.
4God is in die vestings van die stad. Hy is bekend as 'n toevlugsoord.
5Want kyk, die konings het byeengekom, hulle het saam opgetrek.
6Die oomblik toe hulle dit sien, was hulle stomgeslaan; verskrik het hulle op die vlug geslaan.
7Vrees het hulle daar beetgepak, angs, soos 'n vrou wat geboorte gee.
8Met 'n oostewind het U handelskepe stukkend gebreek.
9Wat ons gehoor het, het ons ook ervaar in die stad van die Here, Heerser oor alle magte, in die stad van ons God: God het haar gevestig vir altyd.
10In u •tempel, o God, dink ons na oor u troue liefde.
11Soos u Naam, o God, so strek u lof tot aan die eindes van die aarde, u regterhand is vol •geregtigheid.
12Die berg Sion is verheug, die dogters van Juda juig oor u beslissings.
13Loop rondom Sion, gaan reg rondom haar; tel haar torings,
14kyk goed na haar verdedigingswal, bekyk haar vesting, sodat julle dit vir die toekomstige geslag kan vertel:
15Ja, hierdie God is ons God vir altyd en ewig; Hý sal ons lei vir ewig.