Psalms 49
1 Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. 'n Psalm.
2 Luister hierna, al julle volke, gee aandag, almal wat op aarde woon,
3 geringes sowel as dié wat aansien het, ryk en arm saam.
4 My mond sal wyse woorde uitspreek; waaroor my hart nadink, spreek van insig.
5 Ek het 'n oop oor vir spreuke; onder lierspel sal ek my raaisel oplos.
6 Waarom sou ek bang wees in dae van onheil wanneer die wandade van bedrieërs my omring,
7 die wandade van hulle wat op hulle besittings vertrou en met hulle groot rykdom spog?
8 Een familielid kan nooit 'n ander vrykoop nie, hy kan nie aan God die losprys vir hom betaal nie,
9 want die vrykoopprys vir hulle lewens is te hoog en hy moet vir altyd daarvan afsien
10 dat hy vir ewig kan leef en die graf nie sal sien nie.
11 'n Mens sien immers dat wyse mense sterf; saam met die dwaas en die onverstandige vergaan hulle en laat hulle besittings aan ander na.
12 Hulle graf is hulle tuiste vir altyd, hulle woning van geslag tot geslag. Hulle noem stukke grond na hulleself,
13 maar 'n mens met skatte is nie blywend nie; hy is net soos die diere – hulle gaan ten gronde;
14 dit is hulle lewenspad, dié wat vol selfvertroue is, hulle einde, dié wat van hulle eie uitsprake hou.
15 Soos kleinvee is hulle vir die •doderyk bestem, die dood is hulle herder, teen die môre heers opregtes oor hulle. Hulle liggame is bestem vir vertering deur die doderyk, ver van hulle indrukwekkende wonings.
16 Maar God sal my lewe vrykoop uit die mag van die doderyk, ja, Hy sal my wegneem.
17 Moenie bang wees as iemand ryk word, as hy die rykdom van sy huis vermeerder nie;
18 want hy sal niks daarvan in sy dood saamneem nie, sy rykdom sal hom nie na benede volg nie.
19 Al wens hy in sy lewe homself geluk en sê, “Hulle moet jou prys, want jy doen goed vir jouself,”
20 sal hy by sy voorgeslagte aankom. Vir ewig sal hulle die lig nie sien nie.
21 Maar 'n mens met skatte het nie insig nie; hy is net soos die diere – hulle gaan ten gronde.