1Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. Op “Jong vroue”. 'n Lied.
2God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag; as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.
3Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud, en berge wankel in die hart van die see nie.
4Sy waters kan maar woed, kan maar skuim, berge kan maar bewe in sy dreuning.
5Daar is 'n rivier – sy watervore verskaf vreugde aan die stad van God, die heiligste woonplek van die Allerhoogste.
6God is in haar midde, sy sal nie wankel nie. God sal haar help wanneer die oggend aanbreek.
7Nasies was onstuimig, koninkryke het gewankel, Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder.
8Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons, 'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.
9Kom kyk na die dade van die Here, Hy wat skrikwekkende dinge op aarde doen,
10wat oorloë laat ophou tot aan die einde van die aarde. Boë breek Hy stukkend en Hy verpletter spiese; waens verbrand Hy in die vuur.
11“Bedaar en erken dat Ek God is, Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.”
12Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons, 'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.