Psalms 45AFR20

1Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. Van die Koragiete. 'n Maskiel. 'n Liefdeslied.

2My hart is ontroer deur mooi woorde, ek dra my verse voor aan 'n koning. My tong is die pen van 'n vaardige skrywer.

3U is mooier as ander mense, guns vloei oor u lippe, daarom seën God u vir altyd.

4Gord u swaard aan die heup, o held – u majesteit en u luister!

5Seëvier in u glansrykheid! Trek op ter wille van waarheid, nederigheid en •geregtigheid! Laat u regterhand vir u ontsagwekkende dinge leer.

6U pyle is skerp in die hart van die koning se vyande; volke val onder u.

7U troon, o goddelike wese, is vir altyd en altyd, die septer van u heerskappy is 'n regverdige septer.

8U het •geregtigheid lief en u haat goddeloosheid. Daarom, o goddelike wese, het u God u met olie van vreugde gesalf – meer as u metgeselle.

9Na mirre, adelhout en wildekaneel ruik al u klere; uit paleise van ivoor maak snaarinstrumente u bly.

10Die dogters van konings is versier met u juwele; aan u •regterkant staan die koningin, getooi in goud uit Ofir.

11Luister, dogter, kyk en gee aandag! Vergeet jou volk en die huis van jou vader.

12Dan sal die koning jou skoonheid onweerstaanbaar vind; want hy is jou heer en jy moet laag voor hom buig.

13Dogter van Tirus, met geskenke sal die rykes van die volk jou guns soek.

14In volle glorie wag die dogter van 'n koning binne, in haar uitrusting van goudbrokaat.

15In veelkleurig geweefde klere word sy na die koning gebring; jongmeisies, haar vriendinne, is haar gevolg, hulle word vir u ingebring.

16Met vreugderoepe en gejuig word hulle binnegelei, gaan hulle die koninklike troonsaal binne.

17U seuns sal die plekke van u vaders inneem, u sal hulle as •hoë amptenare aanstel in die hele land.

18Ek wil sorg dat u naam bekend bly deur alle geslagte heen, daarom sal mense u prys vir altyd en altyd.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 45.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.