Psalms 44AFR20

1Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. 'n Maskiel.

2O God, met ons eie ore het ons dit gehoor, ons voorouers het ons vertel van die dade wat U verrig het in hulle tyd, in die ou tyd:

3U, U het met u eie hand nasies verdryf, maar húlle het U geplant, U het volke geteister, maar húlle het U laat uitbrei.

4Ja, ons voorouers het nie met hulle swaard 'n land in besit geneem nie; hulle arm het nie aan hulle die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u teenwoordigheid, omdat U hulle goedgesind was.

5Ú is my koning, my God. Gebied dan die verlossing van Jakob!

6Met U deurboor ons ons teenstanders; in u Naam trap ons hulle plat wat teen ons opstaan.

7Want dit is nie my boog waarop ek vertrou nie, en dit is nie my swaard wat my verlos nie.

8Ja, U verlos ons van ons teenstanders, en U laat hulle wat ons haat, beskaamd staan.

9In God roem ons die hele dag lank, u Naam prys ons vir altyd.

10En tog het U ons verstoot en verneder; U trek nie meer saam met ons leërs uit nie.

11U laat ons terugdeins vir 'n teenstander, en ons haters plunder vir hulleself.

12U lewer ons uit soos slagvee; onder die nasies het U ons verstrooi.

13U verkoop u volk goedkoop; U maak geen wins uit die verkoopprys nie.

14U maak ons 'n bespotting vir ons bure, die spot en hoon van hulle rondom ons.

15U maak van ons 'n spotnaam onder die nasies, U laat die volke hulle koppe skud oor ons.

16Die hele dag lank verduur ek vernedering en is my gesig rooi van skaamte

17oor die luide uittarting en verguising, oor die teenwoordigheid van vyande en wraakgieriges.

18Dit alles het met ons gebeur, maar ons het U nie vergeet nie; ons het nie troubreuk gepleeg teen u verbond nie.

19Ons harte het nie teruggedeins nie, en ons treë het nie van u pad afgewyk nie.

20Maar U het ons verpletter deur van ons 'n plek te maak waar woestynjakkalse hou; U het ons met digte duisternis bedek.

21As ons die Naam van ons God vergeet het, ons hande na 'n vreemde god uitgestrek het,

22sou God dit nie ontdek nie? Hy is immers die Een wat hartsgeheime ken.

23Maar ter wille van U word ons die hele tyd vermoor, word ons as slagvee beskou.

24Word wakker! Waarom slaap U, my Heer? Staan op! Moet ons nie vir altyd verstoot nie.

25Waarom verberg U u gesig, vergeet U ons ellende en ons verdrukking?

26Want ons smelt weg in die stof, ons liggame kleef aan die grond.

27Staan op! Kom ons tot hulp en bevry ons op grond van u troue liefde.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 44.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.