1Vir die •musiekleier. 'n Maskiel. Van die Koragiete.
2Soos 'n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God.
3My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die •tempel ingaan en voor God verskyn?
4Trane is dag en nag my brood, omdat daar die hele dag lank vir my gevra word: “Waar is jou God?”
5Hieraan moet ek dink terwyl ek my hart uitstort, hoe ek optrek in 'n magtige skare, hoe ek voor hulle uit gaan na die huis van God, met luide jubelkrete en dankliedere – 'n feesvierende menigte.
6Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom weer prys vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring.
7My God! My siel kwyn weg in my, daarom dink ek aan U hier uit die Jordaanstreek en by die Hermonberge, hier van berg Misar af.
8Die diep water laat die geluid van u watervalle weergalm. Al u deinings en golwe het oor my gespoel.
9Bedags sal die Here sy troue liefde laat geld, en snags sal 'n lied vir Hom by my opkom, 'n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil vir God sê: “My rotsvesting, waarom het U my vergeet, waarom moet ek in rouklere loop oor die verdrukking deur 'n vyand?”
11Dit sny tot op die been, as my teenstanders my tart deur die hele dag lank vir my te vra: “Waar is jou God?”
12Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom, my God, weer prys vir die verlossing wat Hy, my God, deur sy teenwoordigheid bring.