1Vir die •musiekleier. Van die dienskneg van die Here. Van Dawid.
2'n Uitspraak oor die oortreding van 'n goddelose leef in my gedagtes: “Daar is geen vrees vir God nie.
3Want in sy eie oë is hy te seker van homself om sy sondeskuld te ontdek, om dit te haat.
4Die woorde uit sy mond is onreg en bedrog; hy laat na om wys op te tree, om goed te doen.
5Onreg bedink hy op sy bed; hy gaan staan op 'n pad wat nie goed is nie; kwaad verwerp hy nie.”
6Here, tot aan die hemel reik u troue liefde, u getrouheid tot aan die wolke.
7U geregtigheid is soos massiewe berge, u regspraak soos die groot •oerwater. U verlos mens en dier, Here.
8Hoe kosbaar is u troue liefde, o God! Mense skuil in die skadu van u vlerke.
9Hulle drink hulle versadig aan die oorvloed van u huis, uit die stroom van u genietinge laat U hulle drink.
10Ja, by U is die fontein van lewe, * in u lig sien ons lig.
11Reik met u troue liefde uit na hulle wat U ken, met u •geregtigheid na die opregtes van hart.
12Laat 'n verwaande voet my nie inhaal nie, en die hand van goddeloses my nie laat rondswerf nie.
13Daar val hulle wat onreg pleeg; hulle word platgedruk en kan nie weer opstaan nie.