Psalms 37AFR20

1Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor die kwaaddoeners nie; moenie afgunstig wees op hulle wat kwaadwillig optree nie,

2want soos gras verdor hulle vinnig, en soos groen plante verwelk hulle.

3Vertrou op die Here en doen die goeie, bewoon die land en waak oor betroubaarheid.

4Vind jou vreugde in die Here, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer.

5Vertrou jou lewenspad aan die Here toe, vertrou op Hom, en Hy sal optree.

6Hy sal jou •geregtigheid soos die oggendlig laat verskyn en jou reg soos die middagson.

7Wees stil voor die Here, en krimp ineen van vrees voor Hom. Moet jou nie ontstel oor iemand wat sukses behaal op sy lewenspad nie, oor 'n mens wat komplotte smee nie.

8Moenie kwaad word nie en laat vaar die woede; moet jou nie ontstel nie, dit bring net kwaad.

9Want kwaaddoeners sal vernietig word, maar wie op die Here wag – hulle sal die land besit.

10Nog net 'n rukkie, dan sal daar geen goddelose meer wees nie. Jy sal sy plek dophou, maar hy sal nie daar wees nie.

11Die verdruktes sal die land besit en hulle verlustig in die oorvloed vrede.

12'n Goddelose beplan onheil teen die regverdige en kners op sy tande vir hom.

13My Heer lag vir hom, want Hy sien dat sy dag kom.

14Goddeloses trek die swaard en span hulle boog om die magtelose en behoeftige neer te vel, om dié wat opreg leef, af te slag.

15Hulle swaard sal hulle eie hart binnedring, en hulle boë sal gebreek word.

16Die bietjie wat 'n regverdige het, is beter as die oorvloed van baie goddeloses.

17Want die arms van goddeloses sal gebreek word, maar die Here ondersteun regverdiges.

18Die Here dra sorg vir die lewensdae van hulle wat onberispelik leef: Hulle erfdeel bly vir altyd behoue.

19Hulle sal nie beskaamd staan in 'n tyd van teenspoed nie, en in tye van hongersnood is hulle versadig.

20Maar goddeloses gaan tot niet, die vyande van die Here – soos kosbare weiveld verdwyn hulle, in 'n rookwolk verdwyn hulle.

21'n Goddelose leen en betaal nie terug nie, maar 'n regverdige is goedhartig en mededeelsaam.

22Ja, wie deur Hom geseën is, sal die land besit, maar wie deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word.

23Danksy die Here stap 'n jong man met ferm treë; en die Here is tevrede met sy lewenspad.

24As hy val, sal hy nie neerslaan nie want die Here hou hom aan sy hand.

25Toe ek jonk was en selfs noudat ek oud geword het, het ek nie gesien dat 'n regverdige versaak word, of dat sy nageslag kos soek nie.

26Hy is altyd goedhartig en leen graag uit, sy nageslag is 'n seën vir ander.

27As jy die kwaad vermy en die goeie doen, sal jy vir altyd die land bewoon.

28Want die Here het •geregtigheid lief en wie aan Hom getrou is, verlaat Hy nie; en hulle word vir altyd beskerm, maar die nageslag van goddeloses word uitgeroei.

29Regverdiges sal die land besit en vir altyd daarin woon.

30Die mond van 'n regverdige prewel wysheid en sy tong praat wat reg is.

31Die wet van sy God is in sy hart, sy voete sal nie struikel nie.

32'n Goddelose hou die regverdige dop, en is daarop uit om hom dood te maak.

33Die Here gee hom nie oor in sy hand nie, en veroordeel hom nie wanneer hy teregstaan nie.

34Wag op die Here, en hou by sy pad, dan sal Hy jou aansien gee om grond te besit. Jy sal toekyk wanneer goddeloses uitgeroei word.

35Ek het 'n goddelose gesien, 'n gewelddadige, wat gedy het soos 'n lowerryke, inheemse boom,

36maar toe iemand weer daar verbygaan, was hy weg! En toe ek hom soek, was hy nêrens te vinde nie.

37Let maar op 'n onbesproke mens, kyk maar na 'n opregte, want 'n vredeliewende mens het 'n toekoms;

38maar oortreders word almal saam uitgedelg, die toekoms van goddeloses word kortgeknip.

39Regverdiges se verlossing kom van die Here – hulle toevlug in 'n tyd van verdrukking.

40Die Here help hulle en bevry hulle. Hy bevry hulle van goddeloses en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 37.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.