1Van Dawid. Voer 'n regstryd, Here, teen dié wat my aankla, veg teen dié wat met my veg.
2Neem 'n klein- en 'n grootskild, en staan op om my te help.
3Trek die spies en lans uit, om my vervolgers tegemoet te gaan. Sê vir my: “Ek is jou verlossing!”
4Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd en verneder staan, laat hulle wat kwaad teen my beplan, terugdeins en verleë staan.
5Laat hulle soos kaf voor die wind wees, terwyl die •Engel van die Here hulle wegvee.
6Laat hulle pad donker en glibberig wees, terwyl die Engel van die Here hulle agtervolg.
7Hulle het immers sonder rede in die geheim vir my hulle vangnet gespan, sonder rede vir my 'n vanggat gegrawe.
8Laat teenspoed oor hulle kom sonder dat hulle dit weet, en die net wat hulle gespan het – laat dit hulle vang. Deur teenspoed moet hulle daarin val.
9Ek sal dan juig in die Here, ek sal jubel oor sy verlossing.
10My hele wese sal sê: “ Here, wie is soos U, wat die magtelose red van dié wat sterker as hy is, ja, die magtelose en behoeftige van dié wat hom beroof?”
11Gewelddadige getuies staan op, oor iets waarvan ek niks weet nie, ondervra hulle my.
12Hulle vergeld my met kwaad vir goed; ek is stoksielalleen.
13Maar ek het, toe hulle siek was, rouklere aangetrek; ek het myself gefolter deur te vas. Toe my gebed na my teruggekeer het,
14was ek rusteloos asof dit 'n vriend, my •broer, was. Soos iemand wat oor 'n moeder treur, was ek geboë en in rouklere.
15Maar toe ek struikel, was hulle verheug en het saamgedrom; aanvallers het teen my saamgedrom sonder dat ek dit besef, hulle het my sonder ophou uitmekaargeskeur.
16Hulle toets my, hulle spot my met minagting, hulle kners op hulle tande vir my.
17My Heer, hoe lank gaan U toekyk? Red my lewe van hulle vernietiging, my enigste lewe van die jong leeus.
18Dan sal ek U prys in 'n groot vergadering, tussen 'n menigte mense sal ek U loof.
19Laat my vyande hulle nie valslik oor my verheug nie, laat hulle wat my sonder rede haat, nie met die oog knik nie;
20want dit is nie vrede waaroor hulle praat nie. Teen die mense wat stil is in die land versin hulle woorde van bedrog.
21Ja, hulle rek hulle monde wyd oor my; hulle sê: “Aha! Aha! Ons het dit self gesien!”
22U het dit tog gesien, Here, moet tog nie stilbly nie, my Heer, moenie ver van my af bly nie!
23Word wakker! Staan op vir my regte, vir my verdediging, my God en my Heer.
24Handhaaf my reg volgens u reg, Here, my God, laat hulle nie oor my bly wees nie.
25Laat hulle nie in hulle hart sê, “Aha, net wat ons wou hê!” nie. Laat hulle nie sê, “Ons het hom verslind!” nie.
26Laat dié wat hulle oor my teenspoed verbly, almal saam beskaamd en verleë staan; laat skaamte en vernedering hulle soos klere bedek, dié wat hulle teen my groot hou.
27Mag dié wat graag wil hê dat reg aan my geskied, juig en bly wees en mag hulle aanhoudend sê: “Groot is die Here, wat vrede vir sy dienskneg begeer!”
28My tong sal dan mymerend bly prewel oor u geregtigheid, die hele dag lank oor die lof wat U toekom.