1Van Dawid. Toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abimeleg, dié hom weggejaag en hy toe weggegaan het.
2Ek wil die Here die hele tyd prys, my mond is voortdurend vol van sy lof.
3In die Here sal ek roem; verdruktes sal dit hoor en hulle verheug.
4Maak saam met my die Naam van die Here groot, ja, laat ons saam sy Naam verheerlik.
5Ek het die Here geraadpleeg, en Hy het my geantwoord; van al my verskrikkinge het Hy my gered.
6Verdruktes kyk op na Hom en hulle straal; hulle gesigte hoef nie rooi van skaamte te wees nie.
7Hierdie magtelose het geroep en die Here het gehoor, en uit al sy benoudhede het Hy hom verlos.
8Die •Engel van die Here trek 'n laer rondom hulle wat vir die Here ontsag het en Hy red hulle.
9Beproef dit en ervaar: Die Here is goed, gelukkig is die mens wat by Hom skuil.
10Julle moet ontsag hê vir die Here, julle wat aan Hom toegewy is; want wie vir Hom ontsag het, ly geen gebrek nie.
11Jong leeus kry swaar en ly honger, maar wie die Here soek, ly geen gebrek aan alles wat goed is nie.
12Kom, kinders, luister na my, ontsag vir die Here sal ek julle leer.
13Wie is die mens wat lewe begeer, graag jare wil hê om die goeie te ervaar?
14Weerhou jou tong van kwaad en jou lippe daarvan om bedrieglik te praat.
15Vermy die kwaad, en doen die goeie; soek vrede, en jaag dit na.
16Die oë van die Here is op die regverdiges, sy ore op hulle hulpgeroep.
17Die gesig van die Here is gerig teen kwaaddoeners om hulle gedagtenis uit te roei van die aarde af.
18Regverdiges roep om hulp en die Here luister, uit al hulle benoudhede red Hy hulle.
19Die Here is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy.
20'n Regverdige ervaar baie teenspoed, maar uit dit alles red die Here hom.
21Hy beskerm al sy bene; nie een van hulle word gebreek nie.
22Boosheid veroorsaak 'n goddelose se dood en hulle wat 'n regverdige haat, sal daarvoor boet;
23die Here red die lewens van sy diensknegte en niemand wat by Hom skuil, sal boet nie.