1Regverdiges, jubel oor die Here! 'n Loflied pas by opregtes.
2Dank die Here met begeleiding van liere; besing Hom met begeleiding van tiensnarige harpe.
3Sing vir Hom 'n nuwe lied; speel mooi op snaarinstrumente met uitroepe van vreugde.
4Want die woord van die Here is reg, en al sy werk is betroubaar.
5Hy is lief vir reg en •geregtigheid; die troue liefde van die Here vul die aarde.
6Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die asem van sy mond die hemel se hele leër.
7Hy hou die water van die see soos in 'n dam bymekaar; Hy gaar die •oerwaters op in voorraadkamers.
8Die hele aarde moet vir die Here ontsag hê, Hom moet al die bewoners van die wêreld vrees;
9want Hy het gepraat, en dit was daar, Hy het beveel, en toe staan dit daar.
10Die Here verydel die raadsplanne van nasies, Hy dwarsboom die planne van volke.
11Die raadsplan van die Here bestaan vir ewig, die planne wat Hy bedink, van geslag tot geslag.
12Gelukkig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy as sy eiendom gekies het.
13Uit die hemel kyk die Here, Hy sien alle mense.
14Uit die plek waar Hy woon beskou Hy al die bewoners van die aarde,
15Hy wat elkeen van hulle se denke vorm, insig het in alles wat hulle doen.
16Geen koning word deur 'n groot leër verlos nie; 'n krygsheld red homself nie deur groot krag nie.
17'n Perd bied vals hoop vir oorwinning, deur sy groot krag kan hy nie bevry nie.
18Kyk, die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het, op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde,
19om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood.
20Met ons hele wese wag ons op die Here; Hy is ons hulp en ons skild.
21Want oor Hom is ons harte verheug, ja, op sy •heilige Naam vertrou ons.
22Mag u troue liefde oor ons wees, Here, terwyl ons op U wag!