1'n Psalm. Van Dawid. Toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.
2Here, hoe het my teenstanders vermeerder! Baie staan teen my op.
3Baie sê van my: “Daar is geen redding vir hom by God nie.”
4Maar U, Here, is vir my 'n skild aan alle kante; U is my eer, en die Een wat my kop hoog hou.
5Wanneer ek hard roep na die Here, antwoord Hy my van sy •heilige berg af.
6Ek kan gaan lê, aan die slaap raak en wakker word, want die Here onderskraag my.
7Ek is nie bang vir tienduisende manskappe wat reg rondom my teen my stelling inneem nie.
8Staan op, Here, verlos my, my God, want U het al my vyande op die wang geslaan; die tande van die goddeloses het U gebreek.
9By die Here is daar redding; op u volk rus u seën.