1Van Dawid. Die Here is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees?
2As kwaaddoeners op my toesak om my lewendig te verslind, ja, my teenstanders en my vyande, struikel hulle self en val.
3Al sou 'n leër teen my laer opslaan, sal my hart nie bang wees nie; al sou 'n oorlog teen my uitbreek, sal ek nogtans bly vertrou.
4Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef: om al die dae van my lewe in die huis van die Here te woon, om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor na te dink in sy •tempel.
5Ja, Hy steek my weg in sy skuiling op 'n dag van onheil; Hy verberg my in die beskutting van sy tent; Hy tel my hoog op 'n rots.
6Daarom is my kop hoog bo my vyande rondom my. Ek wil met uitroepe van vreugde offers bring in sy tent, ek wil sing, ek wil die Here besing.
7Luister tog, Here, na my stem wanneer ek roep, wees my genadig en antwoord my!
8My hart eggo u woorde: “Julle moet my teenwoordigheid opsoek!” U teenwoordigheid, Here, soek ek op.
9Moet u gesig nie vir my verberg nie, moet u dienskneg nie in toorn wegwys nie. U was my Helper, moet my nie verstoot of verlaat nie, God wat my red.
10Selfs al verlaat my vader en moeder my, die Here sal my aanneem.
11Here, leer my u pad, lei my op 'n gelyk pad, vanweë my vyande.
12Moet my nie oorgee aan die begeerte van my teenstanders nie; want vals getuies het teen my opgestaan, en hulle blaas geweld aan.
13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal beleef in die land van die lewendes nie!
14Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here!