Psalms 22AFR20

1Vir die •musiekleier. Op “Die rooi takbok van die dagbreek”. 'n Psalm. Van Dawid.

2My God, my God, waarom het U my verlaat? Waarom is U ver daarvan om my te verlos, ver van die woorde wat ek uitskreeu?

3My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie, ook snags, maar daar is geen rus vir my nie.

4U is tog die •Heilige, U heers waar die lofliedere van Israel opklink.

5Op U het ons voorouers vertrou, hulle het vertrou en U het hulle bevry.

6Tot U het hulle om hulp geroep en hulle het ontvlug; op U het hulle vertrou en hulle het nie beskaamd gestaan nie.

7Maar ek is 'n wurm en nie 'n mens nie, bespot deur die mense, verag deur die volk.

8Almal wat my sien, dryf met my die spot; hulle gryns en skud die kop:

9“Wend jou tot die Here!” en “Laat Hy hom bevry, laat Hy hom red as Hy hom goedgesind is!”

10U is immers die Een wat my uit die baarmoeder gehaal het, my op die borste van my moeder laat vertrou het.

11Op U is ek aangewese van die moederskoot af; van my geboorte af is U my God.

12Moenie ver van my bly nie, want die nood is naby; daar is immers niemand wat help nie!

13Baie bulle het my omsingel; die sterkes van Basan het my vasgekeer.

14Hulle het hulle monde teen my oopgesper soos 'n leeu wat verskeur en brul.

15Soos water is ek uitgestort, my hele gebeente val uitmekaar; my hart het geword soos was, dit het in my liggaam gesmelt.

16My krag het uitgedroog soos 'n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; in die stof van die dood laat U my lê.

17Inderdaad, honde het my omsingel. 'n Bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurboor.

18Ek kan al my bene tel. Hulle staar my aan met leedvermaak.

19Hulle verdeel my klere onder mekaar, en hulle loot oor my boklere.

20U, Here, moet tog nie ver van my bly nie; my bron van krag, kom my gou te hulp.

21Red tog my lewe van die swaard, my enigste lewe uit die mag van die honde.

22Red my uit die bek van die leeu, en van die horings van buffels. U het my geantwoord.

23Ek wil u Naam verkondig aan my •broers; in die byeenkoms wil ek U loof:

24“Julle wat vir die Here ontsag het, loof Hom! Julle, die ganse nageslag van Jakob, vereer Hom! Vrees Hom, ganse nageslag van Israel!

25Want Hy het die lyding van die magtelose nie geminag of misken nie; Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie; maar toe hy Hom om hulp gesmeek het, het Hy gehoor.”

26U is die rede vir my lofprysing in 'n groot byeenkoms; my geloftes sal ek nakom in die teenwoordigheid van dié wat vir Hom ontsag het.

27Die verdruktes kan dan eet en versadig word; wie Hom raadpleeg, kan die Here loof. Mag julle harte vir altyd leef!

28Almal tot aan die uithoeke van die aarde moet daaraan dink en hulle tot die Here bekeer. Al die familiegroepe van die nasies moet voor U in aanbidding buig;

29want aan die Here behoort die koningskap, en Hy heers oor die nasies.

30Ja, voor Hom sal almal wat oordadig leef, in aanbidding neerbuig; voor Hom sal alle sterflinge kniel, elkeen wat nie die lewe kan behou nie.

31'n Nageslag sal Hom dien; hulle sal van my Heer vertel aan die volgende geslag.

32Hulle sal kom en sy geregtigheid bekend maak aan mense wat nog gebore moet word: Hy het dit gedoen.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 22.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.