Psalms 21
1 Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid.
2 Here, die koning is bly oor u beskerming; hoe uitbundig juig hy oor u verlossing.
3 Wat sy hart begeer, het U vir hom gegee en wat sy lippe verlang, het U hom nie geweier nie.
4 Ja, U tree hom tegemoet met goeie seëninge; U sit 'n kroon van fyngoud op sy kop.
5 Lewe het hy van U gevra en U het dit aan hom gegee, 'n lang leeftyd, vir altyd en ewig.
6 Hy geniet hoë aansien deur die verlossing wat U bring; luister en majesteit verleen U aan hom.
7 Ja, U oorlaai hom vir altyd met seëninge. U maak hom baie bly met u teenwoordigheid.
8 Omdat die koning vertrou op die Here, op die troue liefde van die Allerhoogste, sal hy nie wankel nie.
9 U hand sal al u vyande vind. U regterhand sal dié vind wat u haat.
10 U maak van hulle 'n vurige oond wanneer u verskyn. Die Here sal hulle in sy toorn verslind en vuur sal hulle verteer.
11 Hulle vrug sal u uit die land laat verdwyn en hulle nageslag onder die mense.
12 Wanneer hulle boosheid bedink teen u, 'n komplot smee, sal hulle nie slaag nie;
13 want u sal hulle op die vlug laat slaan wanneer u op hulle aanlê met 'n gespande boog.
14 Verhef U, Here, in u krag! Ons wil sing, u mag wil ons besing.