1Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid.
2Here, die koning is bly oor u beskerming; hoe uitbundig juig hy oor u verlossing.
3Wat sy hart begeer, het U vir hom gegee en wat sy lippe verlang, het U hom nie geweier nie.
4Ja, U tree hom tegemoet met goeie seëninge; U sit 'n kroon van fyngoud op sy kop.
5Lewe het hy van U gevra en U het dit aan hom gegee, 'n lang leeftyd, vir altyd en ewig.
6Hy geniet hoë aansien deur die verlossing wat U bring; luister en majesteit verleen U aan hom.
7Ja, U oorlaai hom vir altyd met seëninge. U maak hom baie bly met u teenwoordigheid.
8Omdat die koning vertrou op die Here, op die troue liefde van die Allerhoogste, sal hy nie wankel nie.
9U hand sal al u vyande vind. U regterhand sal dié vind wat u haat.
10U maak van hulle 'n vurige oond wanneer u verskyn. Die Here sal hulle in sy toorn verslind en vuur sal hulle verteer.
11Hulle vrug sal u uit die land laat verdwyn en hulle nageslag onder die mense.
12Wanneer hulle boosheid bedink teen u, 'n komplot smee, sal hulle nie slaag nie;
13want u sal hulle op die vlug laat slaan wanneer u op hulle aanlê met 'n gespande boog.
14Verhef U, Here, in u krag! Ons wil sing, u mag wil ons besing.