1'n Miktaam. Van Dawid. Beskerm my, o God, want by U skuil ek.
2Ek het vir die Here gesê: “U is my Heer; buiten U is daar vir my niks goeds nie.”
3Wat die heiliges in die land betref, ja, die magtiges, by wie ek al my vreugde gevind het:
4Wie hulle na ander gode haas, vererger hulle smart. Ek sal nie vir hulle •drankoffers van bloed uitgiet nie, en ek sal nie hulle name op my lippe neem nie.
5Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot.
6Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.
7Ek sal die Here prys wat my raad gegee het, selfs in die nag wys my hart my tereg.
8Ek hou die Here altyd voor oë; omdat Hy aan my regterkant is, sal ek nie struikel nie.
9Daarom is my hart bly en juig my binneste; ja, my liggaam bly veilig,
10want U sal my lewe nie aan die •doderyk oorlewer nie; U sal nie toelaat dat u getroue volgeling die graf sien nie.
11U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in u teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd.