Bible

Upgrade

Your Church Presentations in Minutes

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 17

:
Afrikaans - AFR20
1 'n Gebed. Van Dawid. Luister tog na 'n regverdige saak, Here, gee tog aandag aan my klaagroep, hoor my gebed wat kom oor lippe sonder bedrog.
2 Van U af moet die oordeel oor my kom; mag u regverdig onderskei.
3 U het my hart getoets, my snags ondersoek, U het my deur die smeltkroes laat gaan, maar U het niks gevind nie. Ek het my voorgeneem: My mond sal nie oortree nie.
4 Wat die optrede van mense betref, hou ek by die woord van u lippe. Ek het die paaie van geweldenaars vermy.
5 My voete het u paaie nougeset gevolg; my voetstappe het nie gewankel nie.
6 Ek roep U aan, want U verhoor my, o God; draai u oor na my, luister na my woorde.
7 Wys my die wonders van u troue liefde, Verlosser van hulle wat teen teenstanders skuiling soek by u regterhand.
8 Beskerm my soos die appel van u oog; verberg my in die skadu van u vlerke
9 vir goddeloses wat my geweld wil aandoen, vir my vyande wat my lewe van alle kante bedreig.
10 Hulle ongevoelige harte is geslote; met hulle monde praat hulle aanmatigend.
11 Hulle het op my spoor gebly, nou het hulle my omsingel; hulle is daarop ingestel om my op die grond te laat lê.
12 Die goddelose is soos 'n leeu wat daarop uit is om te verskeur, soos 'n jong leeu wat in skuilplekke gereed sit.
13 Staan op, Here, loop op hom af, laat hom die knie buig. Bevry my met u swaard van goddeloses,
14 met u hand, Here, van hulle wat doodmaak. Mense wat doodmaak, se lewens is van korte duur; dit is hulle lot in die lewe. Met u verborge straf vul U hulle mae; hulle kinders word versadig daarvan en wat oorbly, laat hulle agter vir hulle jong kinders.
15 Wat my betref, in geregtigheid sal ek u teenwoordigheid ervaar; wanneer ek wakker word, sal ek van u verskyning versadig wees.