1Halleluja! Sing vir die Here 'n nuwe lied – sy lof in die byeenkoms van getroue volgelinge!
2Laat Israel hom verheug in sy Maker, laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning.
3Laat hulle sy Naam loof met koordans, met begeleiding van tamboeryne en liere Hom besing.
4Want die Here is sy volk goedgesind; Hy vereer verdruktes met oorwinning.
5Laat getroue volgelinge juig in eerbetoon; laat hulle jubel op hulle beddens –
6met verheerliking van God uit hulle kele, en tweesnydende swaarde in hulle hande,
7om vergelding te voltrek onder die nasies, straf onder die volke,
8om hulle konings in kettings te slaan en hulle geëerdes in ysterboeie,
9om die vonnis wat opgeteken is, oor hulle te voltrek. Dit sal luister verleen aan al sy getroue volgelinge. Halleluja!