Psalms 148
1 Halleluja! Loof die Here uit die hemel; loof Hom in die hoogtes!
2 Loof Hom, al sy engele; loof Hom, al sy hemelse magte!
3 Loof Hom, son en maan; loof Hom, al die helder sterre!
4 Loof Hom, hoogste hemele en die water wat bo die hemelkoepel is!
5 Laat hulle die Naam van die Here loof, want dit is Hy wat bevel gegee het – en hulle is geskape.
6 Hy het hulle gevestig vir altyd, vir ewig. Hy het 'n vaste orde bepaal wat nie verbygaan nie.
7 Loof die Here vanaf die aarde – seemonsters en al die diep waters,
8 vuur en hael, sneeu en newels, stormwind wat sy bevel uitvoer;
9 berge en al die heuwels, bome wat vrugte dra en al die seders;
10 wilde diere en al die vee, diere wat kruip en voëls wat vlieg;
11 konings van die aarde en al die volke, •aanvoerders en al die regeerders van die aarde;
12 jong mans en ook jongmeisies, oumense saam met jongmense.
13 Laat hulle die Naam van die Here loof, want sy Naam alleen is hoog verhewe; sy luister reik oor aarde en hemel.
14 Hy het sy volk sterk gemaak – 'n rede tot lof vir al sy troue volgelinge, die Israeliete, die volk wat na aan Hom is. Halleluja!