Psalms 144AFR20

1Van Dawid. Die Here, my rots, moet geprys word, Hy maak my hande bedrewe vir die geveg, my vingers vir die oorlog.

2Hy is my vertroueling, my bergskuiling, my beskutting, my bevryder, my skild, en by Hom skuil ek, Hy wat my volk aan my onderwerp.

3Here, wat is 'n mens dat U hom versorg, 'n sterfling dat U hom in ag neem?

4'n Mens is soos 'n asemteug, sy lewensdae soos 'n vlugtige skaduwee.

5Here, buig u hemel af en daal neer; raak die berge aan, sodat hulle rook.

6Laat weerligte flits en dryf hulle uitmekaar; stuur u pyle en bring hulle in verwarring.

7Reik met u hand uit die hoogte, bevry my en red my uit die watermassa, uit die hand van vreemdes

8wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande bedrieglik is.

9O God, 'n nuwe lied wil ek vir U sing, met begeleiding van die tiensnarige harp wil ek U besing –

10U wat aan konings die oorwinning gee, wat Dawid, u dienskneg, bevry van 'n dodelike swaard.

11Bevry my en red my uit die hand van vreemdes wie se monde onsin verkondig, en wie se regterhande bedrieglik is,

12sodat ons seuns soos volgroeide plante kan wees in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgekerf, geskik vir 'n paleis,

13sodat ons graanskure vol kan wees, alle soorte kos kan lewer, ons kleinvee met duisende, met tienduisende, kan vermeerder in ons oop weivelde,

14en ons beeste swaar dragtig kan wees; met geen bres in ons mure nie, geen veldtogte en geen gejammer op ons pleine nie.

15Gelukkig is die volk met wie dit so gaan; gelukkig is die volk wie se God die Here is!

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 144.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.