Bible

Say Goodbye

To Clunky Software & Sunday Tech Stress!

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 143

:
Afrikaans - AFR20
1 'n Psalm. Van Dawid. Here, hoor my gebed, luister na my smeekgebed; antwoord my in u trou, in u geregtigheid.
2 Moet net nie u dienskneg voor die gereg daag nie; want niemand wat leef, is voor U regverdig nie.
3 Ja, vyande agtervolg my, hulle verpletter my lewe teen die grond; hulle laat my woon in donker plekke, soos mense wat lankal dood is.
4 My gees in my weifel; in my binneste is my hart verbyster.
5 Ek dink aan dae lank gelede, ek mymer oor al u dade; oor die werk van u hande dink ek na.
6 Ek strek my hande uit na U; my diepste wese smag na U soos dor grond.
7 U moet my gou antwoord, Here; my gees is gedaan. Moet tog nie u gesig vir my verberg nie; dan word ek net soos hulle wat in die put afdaal.
8 Laat my in die môre van u troue liefde hoor, want op U vertrou ek. Wys my die pad wat ek moet loop, want na U is my verlange.
9 Red my van my vyande, Here; na U vlug ek.
10 Leer my om te doen wat vir U aanvaarbaar is, want U is my God. U goeie Gees moet my lei op gelyk grond.
11 Ter wille van u Naam, Here, moet U my in die lewe hou; deur u regverdige optrede moet U my uitlei uit die nood;
12 en in u troue liefde moet U my vyande vernietig. Maak almal tot niet wat my lewe bedreig, want ek is u dienskneg.