1Vir die •musiekleier. Van Dawid. Dwase sê in hulle harte: Daar is geen God nie. Hulle tree gruwelik en afstootlik op. Daar is nie een wat goed doen nie.
2Die Here kyk vanuit die hemel na die mense om te sien of daar iemand is wat verstandig is, iemand wat God soek.
3Almal het afgedwaal, saam het hulle ontaard; daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.
4Is almal wat onreg pleeg dan sonder insig, hulle wat my volk eet soos 'n mens brood eet? Hulle roep die Here nie aan nie.
5Dan oorweldig skrik hulle, want God is met die regverdige geslag.
6Julle wil die planne van die magtelose bespotlik maak, maar die Here is sy skuilplek.
7Mag daar uit Sion redding kom vir Israel! Wanneer die Here die lot van sy volk omkeer, moet Jakob juig, moet Israel bly wees.