Psalms 139AFR20

1Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. Here, U ondersoek my en U ken my.

2U is die een wat my sit en opstaan ken; U verstaan van ver af wat ek in gedagte het.

3My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend.

4Ja, daar is nog nie 'n woord op my tong nie, kyk, dan ken U, Here, dit volledig!

5Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my.

6Om dit te verstaan, is 'n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie.

7Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid?

8Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die •doderyk – ook daar is U!

9Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see;

10ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou.

11En al sê ek, “As duisternis my maar net wil verberg en die lig om my nag word”,

12is selfs duisternis nie vir U donker nie, maar skyn nag so lig soos die dag, is die duisternis soos die lig.

13Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het.

14Ek prys U omdat ek op 'n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed.

15My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde.

16U oë het my vormloosheid gesien. En in u •boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.

17En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan!

18As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U.

19As U, o God, goddeloses maar wou ombring! Manne wat bloed vergiet, gaan weg van my af!

20Dit is hulle wat valshede oor U verkondig, u vyande wat die stem tevergeefs verhef.

21Sou ek u haters nie haat nie, Here, in hulle wat teen U opstaan, nie 'n weersin hê nie?

22Ek haat hulle met 'n intense haat; vyande het hulle vir my geword.

23Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes.

24Kyk of ek nie op 'n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 139.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.