Bible

Upgrade

Your Church Presentations in Minutes

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 139

:
Afrikaans - AFR20
1 Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. Here, U ondersoek my en U ken my.
2 U is die een wat my sit en opstaan ken; U verstaan van ver af wat ek in gedagte het.
3 My omswerwinge en waar ek rus U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend.
4 Ja, daar is nog nie 'n woord op my tong nie, kyk, dan ken U, Here, dit volledig!
5 Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my.
6 Om dit te verstaan, is 'n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie.
7 Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid?
8 Klim ek op na die hemel U is daar; gaan ek in die •doderyk ook daar is U!
9 Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see;
10 ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou.
11 En al ek, “As duisternis my maar net wil verberg en die lig om my nag word”,
12 is selfs duisternis nie vir U donker nie, maar skyn nag so lig soos die dag, is die duisternis soos die lig.
13 Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het.
14 Ek prys U omdat ek op 'n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed.
15 My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde.
16 U het my vormloosheid gesien. En in u •boekrol is hulle almal opgeteken dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.
17 En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God hoe oorweldigend is die volle getal daarvan!
18 As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U.
19 As U, o God, goddeloses maar wou ombring! Manne wat bloed vergiet, gaan weg van my af!
20 Dit is hulle wat valshede oor U verkondig, u vyande wat die stem tevergeefs verhef.
21 Sou ek u haters nie haat nie, Here, in hulle wat teen U opstaan, nie 'n weersin nie?
22 Ek haat hulle met 'n intense haat; vyande het hulle vir my geword.
23 Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes.
24 Kyk of ek nie op 'n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.