1Vir die •musiekleier. Op “Die agtste”. 'n Psalm. Van Dawid.
2Verlos tog, Here! Want daar is nie meer getroue volgelinge nie; die betroubares onder die mense het verdwyn.
3Die een mens belieg die ander; met vleiende lippe praat hulle uit twee monde.
4Mag die Here al die vleiende lippe uitroei, die tonge wat grootpraat,
5hulle wat sê: “Danksy ons tonge is ons sterk; ons lippe is onder ons beheer. Wie is heer oor ons?”
6“Vanweë die geweld teen die magteloses, die gesug van die behoeftiges, gaan Ek nóú opstaan,” sê die Here. “Ek sal hulle wat daarna smag na veiligheid bring.”
7Die Here se woorde is suiwer woorde, silwer wat gelouter is in 'n smeltoond in die grond, dit is sewe maal gesuiwer.
8U, Here, moet hulle beskerm; U moet elkeen altyd veilig hou teen hierdie geslag.
9Oral loop goddeloses rond, terwyl die gemeenheid van mensekinders hoogty vier.