Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 119

:
Afrikaans - AFR20
1 Gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg!
2 Gelukkig is hulle wat hou by sy bepalings, wat Hom met hulle hele hart soek;
3 wat ook nie onreg pleeg nie, maar net sy paaie volg!
4 U het self u opdragte gegee, sodat mense dit noukeurig sal nakom.
5 Ag, was my lewenspaaie maar standvastig, sodat ek u voorskrifte kon nakom.
6 Dan sal ek nie beskaamd staan, terwyl ek op al u bevele let nie.
7 Ek prys U met 'n opregte hart terwyl ek u regverdige beslissings bestudeer.
8 U voorskrifte sal ek nakom; moet my tog nooit in die steek laat nie.
9 Hoe sal 'n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woord.
10 Met my hele hart soek ek U; laat my tog nie afdwaal van u bevele nie.
11 In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie.
12 U moet geprys word, Here! Leer my u voorskrifte!
13 Met my lippe vertel ek van al die beslissings van u mond.
14 Oor die pad van u bepalings is ek verheug soos oor enige rykdom.
15 Oor u opdragte wil ek nadink; ek wil op u paaie let.
16 In u voorskrifte vind ek vreugde; ek sal u woord nie vergeet nie.
17 Wees goed vir u dienskneg, dan kan ek lewe en u woord nakom.
18 Maak oop my oë, sodat ek die wonders uit u wet kan raaksien.
19 Ek is 'n •vreemdeling op aarde; moet u bevele nie vir my verborge hou nie.
20 My lewe kwyn die hele tyd weg van verlange na u beslissings.
21 U bestraf vermeteles, die vervloektes, hulle wat van u bevele afdwaal.
22 Verwyder bespotting en minagting van my, want by u bepalings hou ek.
23 Selfs al sit leiers met mekaar en praat oor my u dienskneg sal oor u voorskrifte bly nadink.
24 Nog steeds is u bepalings my grootste vreugde; hulle is my raadgewers.
25 My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord.
26 Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte.
27 Die pad van u opdragte laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink.
28 My lewe vloei weg van verdriet; rig my op volgens u woord.
29 Die pad van bedrog neem dit van my weg; en u wet gee dit genadiglik vir my.
30 Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë.
31 Ek hou aan u bepalings vas; Here, laat my nie beskaamd staan nie.
32 Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig.
33 Here, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou.
34 Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom.
35 Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde.
36 Laat my hart na u bepalings neig, en nie na winsbejag nie.
37 Wend my daarvan af om na nuttelose dinge te staar; hou my lewend op u paaie.
38 Doen u woord gestand aan u dienskneg u woord wat ontsag wek vir U.
39 Neem die bespotting wat ek vrees van my weg, want u beslissings is goed.
40 Kyk, ek verlang na u opdragte; hou my lewend deur u •geregtigheid.
41 Laat u troue liefde my deel word, Here, u verlossing volgens u woord,
42 sodat ek my spotter kan antwoord; want ek vertrou op u woord.
43 Moet tog nie u betroubare woord geheel en al uit my mond wegneem nie, want ek vestig my hoop op u beslissings.
44 Ek wil u wet voortdurend nakom, vir altyd en ewig.
45 Ek wil in hierdie wye ruimte voortbeweeg, want u opdragte ondersoek ek.
46 Ek sal oor u bepalings voor konings praat sonder om my te skaam.
47 Ek vind vreugde in u bevele wat ek liefhet;
48 ek reik uit na u opdragte wat ek liefhet; ek dink na oor u voorskrifte.
49 Dink aan u woord aan u dienskneg waarmee U aan my hoop gegee het.
50 Dit is my vertroosting in my ellende, dat u belofte my lewend hou.
51 Vermeteles het my tot die uiterste toe gespot, maar van u wet het ek nie weggedraai nie.
52 Ek het u beslissings onthou, van lank gelede af, Here, en ek was getroos.
53 Woede het my beetgepak oor goddeloses hulle wat u wet verlaat.
54 Maar u voorskrifte was vir my liedere in 'n plek waar ek 'n vreemdeling was.
55 Ek het u Naam in die nag onthou, Here, en ek het u wet nagekom.
56 Dit het deel geword van my dat ek by u opdragte hou.
57 U, Here, is my deel, ek het onderneem om u woorde na te kom.
58 Ek het met my hele hart u guns gesoek: Wees my genadig volgens u belofte.
59 Ek het my paaie bedink en my voete teruggebring na u bepalings.
60 Ek het my gehaas en nie getalm om u bevele na te kom nie.
61 Die toue van goddeloses het my omstrengel, maar u wet het ek nie vergeet nie.
62 In die middel van die nag staan ek op om U te prys oor u regverdige beslissings.
63 Ek is 'n vriend van almal wat vir U ontsag het, en u opdragte nakom.
64 Here, u troue liefde vul die aarde; leer my u voorskrifte.
65 U het goed gedoen aan u dienskneg, Here, volgens u woord.
66 Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u bevele.
67 Voordat ek swaar beproef is, was ek aan die dwaal, maar nou kom ek u woord na.
68 U is goed en doen goed; leer my u voorskrifte.
69 Vermeteles het my met leuens beswadder; maar ek, met my hele hart hou ek by u opdragte.
70 Hulle harte is so gevoelloos soos vet, maar ek vind vreugde in u wet.
71 Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer.
72 Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.
73 U hande het my gemaak, my gevestig; maak my verstandig, ek wil u bevele leer.
74 Hulle wat vir U ontsag het, sien my en is bly, want op u woord wag ek.
75 Ek weet, Here, dat u beslissings regverdig is, en dat U my in getrouheid verneder het.
76 Laat u troue liefde tog vir my tot troos wees volgens u woord aan u dienskneg.
77 Laat u ontferming my deel word, sodat ek kan lewe; want u wet is my vreugde.
78 Laat vermeteles beskaamd staan, want sonder rede veronreg hulle my; maar ek sal bly nadink oor u opdragte.
79 Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken.
80 Laat my hart onberispelik aan u voorskrifte hou, sodat ek nie beskaamd staan nie.
81 My •siel smag na u verlossing; op u woord wag ek.
82 My smag na u belofte en vra: “Wanneer sal U my troos?”
83 Want ek het geword soos 'n stuk vel vol rook, maar u voorskrifte het ek nie vergeet nie.
84 Hoeveel dae is daar nog vir u dienskneg? Wanneer gaan u die oordeel voltrek oor my vervolgers?
85 Vermeteles het vir my vangkuile gegrawe, hulle wat nie volgens u wet optree nie.
86 Al u bevele is betroubaar, maar hulle vervolg my sonder rede. Help my!
87 Byna het hulle my vernietig hier op aarde, maar ek, ek het u opdragte nie verontagsaam nie.
88 Maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde, sodat ek die bepalings uit u mond kan nakom.
89 Vir ewig, Here, staan u woord vas in die hemel.
90 Van geslag tot geslag duur u trou; U het die aarde gevestig en dit hou stand.
91 Volgens u beslissings hou dit vandag nog stand, want alles is u diensknegte.
92 As u wet nie my vreugde was nie, sou ek in my ellende vergaan het.
93 Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak.
94 Aan U behoort ek; verlos my, want na u opdragte streef ek.
95 Goddeloses wag my in om my te vernietig; op u bepalings slaan ek ag.
96 Ek het gesien aan alle volmaaktheid kom daar 'n einde, maar u gebod is besonder ruim.
97 Hoe lief het ek u wet die hele dag dink ek daaroor na.
98 U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is altyd daar vir my.
99 Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke.
100 Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek.
101 Van elke slegte pad het ek my voete weerhou sodat ek u woord kon onderhou.
102 Van u beslissings het ek nie afgewyk nie, want dit is U wat my onderrig.
103 Hoe strelend is u woord vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.
104 Uit u opdragte kry ek insig; daarom haat ek elke bedrieglike pad.
105 U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my lewenspad.
106 Ek het 'n eed afgelê en daarby gehou om u regverdige beslissings na te kom.
107 Ek is baie terneergedruk; Here, maak my lewend volgens u woord!
108 Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees, Here, en leer my u beslissings.
109 My lewe is voortdurend in my hande; maar u wet vergeet ek nie.
110 Goddeloses het vir my 'n net gespan, maar van u opdragte het ek nie afgewyk nie.
111 Ek het u bepalings as blywende erfporsie ontvang; ja, dit is die vreugde van my hart.
112 Ek rig my hart daarop om u voorskrifte uit te voer vir altyd, tot die einde toe.
113 Dubbelhartige mense haat ek, maar u wet het ek lief.
114 My skuilplek en my skild is U; op u woord vestig ek my hoop.
115 Gaan weg van my, julle kwaaddoeners, sodat ek by die gebooie van my God kan hou.
116 Ondersteun my, volgens u woord, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie.
117 Onderskraag my, sodat ek verlos kan word; ek wil voortdurend aan u voorskrifte aandag gee.
118 U verwerp almal wat dwaal, weg van u voorskrifte af; want hulle bedrog is misleidend.
119 Soos metaalskuim verwyder U al die goddeloses van die aarde; daarom het ek u bepalings lief.
120 My lyf bewe omdat U vrees inboesem; ja, vir u beslissings is ek vol ontsag.
121 Ek doen wat billik en reg is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie.
122 Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie.
123 My smag na u verlossing, na u belofte van •geregtigheid.
124 Handel met u dienskneg volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte.
125 Ek is u dienskneg; gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken.
126 Dit is tyd vir die Here om op te tree hulle maak u wet kragteloos.
127 Daarom het ek u bevele lief, ja, meer as goud, as suiwer goud.
128 Daarom volg ek alle opdragte oor alles; elke pad van bedrog haat ek.
129 U bepalings is wonderlik; daarom hou ek daarby.
130 As u woorde oopgaan, gee dit lig; dit gee insig aan onkundiges.
131 Met 'n oop mond hyg ek, want ek hunker na u gebooie.
132 Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet.
133 Maak my treë ferm met u woord en laat geen onreg oor my heers nie.
134 Bevry my van onderdrukking deur mense, sodat ek u opdragte kan nakom.
135 Laat die lig van u aangesig oor u dienskneg skyn, en leer my u voorskrifte.
136 Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet nakom nie.
137 Regverdig is U, Here, en u beslissings is reg.
138 U het in •geregtigheid u bepalings uitgevaardig, en in goeie trou.
139 My ywer verteer my omdat my teenstanders u woorde vergeet.
140 U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief.
141 Ek is klein en word geminag, maar u opdragte vergeet ek nie.
142 U geregtigheid is regverdig vir ewig en u wet is betroubaar.
143 Benoudheid en angs het my oorval, maar u gebooie is my vreugde.
144 U bepalings is regverdig vir ewig; gee my insig, sodat ek kan lewe.
145 Ek roep met my hele hart: “Antwoord my, Here, u voorskrifte wil ek onderhou!”
146 Ek roep na U: “Verlos my sodat ek u bepalings kan nakom!”
147 Voor die oggendskemer roep ek al om hulp; op u woorde wag ek.
148 Met oop gaan ek elke nagwaak in, sodat ek oor u woord kan nadink.
149 Luister tog in u troue liefde na my stem, Here, hou my lewend volgens u beslissing.
150 Mense wat slinkse planne najaag, kom nader; hulle bly ver van u wet.
151 Maar U, Here, is naby, en al u gebooie is betroubaar.
152 Uit u bepalings weet ek lank reeds dat U dit vir ewig gevestig het.
153 Sien tog my ellende raak en red my, want u wet vergeet ek nie.
154 Behartig my regsaak en verlos my; hou my lewend op grond van u belofte.
155 Verlossing bly ver van goddeloses, want hulle streef nie u voorskrifte na nie.
156 U ontferming is groot, Here; hou my lewend volgens u beslissings.
157 My agtervolgers en teenstanders is baie, maar van u bepalings wyk ek nie af nie.
158 Ek het ontroues gesien en dit het my met weersin vervul dat hulle u woord nie onderhou nie.
159 Sien tog raak dat ek u opdragte liefhet, Here, maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde.
160 Die wese van u woord is betroubaarheid, en elkeen van u regverdige beslissings is vir ewig.
161 Leiers vervolg my sonder rede, maar net vir u woord het my hart 'n heilige vrees.
162 Ek verheug my oor u woord, soos iemand wat 'n groot buit gevind het.
163 Ek haat en verafsku valsheid, maar u wet het ek lief.
164 Sewe keer per dag loof ek U oor u regverdige beslissings.
165 Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet; vir hulle is daar geen struikelblokke nie.
166 Ek vestig my hoop op u verlossing, Here, en ek voer u bevele uit.
167 Ek kom u bepalings na; ja, ek het dit baie lief.
168 Ek kom u opdragte en u bepalings na, want al my paaie oop voor U.
169 Laat my klaagroep voor U kom, Here; gee my insig ooreenkomstig u woord.
170 Laat my smeekgebed U bereik, red my volgens u belofte.
171 My lippe laat lofprysing uitstroom, want U leer my u voorskrifte.
172 My tong besing u woord, want al u gebooie is regverdig.
173 Laat u hand my te hulp kom, want ek verkies u opdragte.
174 Ek verlang na u verlossing, Here; u wet is my vreugde.
175 Hou my lewend sodat ek U kan loof en laat u beslissings my help.
176 Ek dwaal rond soos 'n verlore skaap; soek tog u dienskneg. U gebooie vergeet ek immers nie.