Psalms 118
1 Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.
2 Laat Israel sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.”
3 Laat die huis van Aäron sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.”
4 Laat dié wat vir die Here ontsag het, sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.”
5 In my angs het ek geroep: “ Here!” Hy het my geantwoord; die Here het vir my ruimte gemaak.
6 Die Here is vir my; ek sal nie bang wees nie. Wat kan 'n mens aan my doen?
7 Die Here is vir my, as my helper; en ek, ek sal op my haters neersien.
8 Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou.
9 Dit is beter om by die Here te skuil as om op vooraanstaandes te vertrou.
10 Alle nasies het my omsingel; in die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer.
11 Hulle het my omsingel, ja, hulle het op my toegesak; in die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer.
12 Hulle het my omsingel soos bye, maar hulle is geblus soos 'n vuur in doringstruike. In die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer.
13 Julle het my hard gestamp, dat ek moes val, maar die Here het my gehelp.
14 My krag en sterkte was die Here; Hy het my tot hulp gekom.
15 Die geluid van jubelkrete en van verlossing klink op in die tente van regverdiges. Die regterhand van die Here doen kragtige dade.
16 Die regterhand van die Here is hoog gelig; die regterhand van die Here doen kragtige dade.
17 Ek sal nie sterf nie, maar ek sal lewe en vertel van die dade van die Here.
18 Die Here het my ernstig tereggewys, maar aan die dood het Hy my nie oorgegee nie.
19 Maak vir my die poorte na •geregtigheid oop; ek wil daardeur ingaan, ek wil die Here prys.
20 “Dit is die poort na die Here – regverdiges mag daardeur ingaan.”
21 Ek wil U prys, omdat U my geantwoord en my te hulp gekom het.
22 Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword.
23 Van die Here het dit gekom; dit is 'n wonder in ons oë.
24 Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons juig en ons in Hom verheug.
25 Ag, Here, verlos ons tog! Ag, Here, gee tog voorspoed!
26 Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here. Ons seën julle uit die huis van die Here.
27 Die Here is God; Hy het vir ons lig laat skyn. Voer met gevlegte takke die kringdans uit tot by die horings van die altaar.
28 U is my God en ek prys U! My God, ek wil U verheerlik.
29 Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.