1Van Dawid. 'n Psalm. Dit is die uitspraak van die Here vir my heer: “Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete maak.”
2Uit Sion stuur die Here jou magtige septer: “Heers te midde van jou vyande!
3Jou volk bied hulleself gewillig aan op die dag van jou magsvertoon op die heilige berge. Uit die skoot van die daeraad het Ek jou soos dou verwek.”
4Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal nie spyt wees nie: “Jy is priester vir altyd volgens die orde van Melgisedek.”
5My Heer, die een aan u regterhand verpletter konings op die dag van sy toorn.
6Onder die nasies voltrek hy die vonnis – dit is vol lyke; hy verpletter hoofde oor 'n groot gebied.
7Op pad drink hy uit die spruit; daarom sal hy sy hoof hoog hou.