Psalms 109AFR20

1Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. O God, aan wie my lof toekom, moet tog nie stilbly nie;

2want die monde van goddeloses, ja, monde vol bedrog, is wyd oop teen my – hulle beskuldig my met tonge wat lieg.

3Met woorde van haat omsingel hulle my; hulle val my sonder rede aan.

4In antwoord op my liefde is hulle vyandig teenoor my, en dit terwyl ek in gebed is.

5Hulle vergeld my met kwaad vir goed, met haat vir my liefde.

6Hulle sê: “Stel 'n goddelose teen hom aan, laat 'n aanklaer aan sy regterkant staan.

7Wanneer die beslissing oor hom gegee word, moet hy as 'n skuldige na vore tree; sy gebed moet hom as sonde toegereken word.

8Mag sy lewensdae min wees; mag iemand anders sy amp oorneem.

9Mag sy kinders vaderloos word en sy vrou 'n weduwee.

10Mag sy kinders bly rondswerf en bedel, en kos soek op hulle puinhope.

11Mag die skuldeiser beslag lê op alles wat aan hom behoort, en mag vreemdes die vrug van sy arbeid plunder.

12Mag daar vir hom niemand wees wat in troue liefde uitreik nie; mag daar niemand wees wat hom ontferm oor sy vaderlose kinders nie.

13Mag sy nageslag uitgeroei word – in die volgende geslag moet hulle name uitgewis word.

14Mag die sondeskuld van sy voorouers die Here bybly, en mag die sonde van sy moeder nie uitgewis word nie.

15Mag dit altyd voor die Here wees, sodat Hy die herinnering aan hulle van die aarde af verdelg;

16omdat hierdie man nie daaraan gedink het om troue liefde te bewys nie, maar magtelose mense en behoeftiges, dié met vreesbevange harte, vervolg het om hulle dood te maak.

17Hy was lief vir vervloeking – dit het hom getref. Hy het niks gehou van seën nie – dit het ver van hom gebly.

18Hy het vervloeking aangetrek soos sy bokleed – dit het sy binneste ingedring soos water, en sy gebeente soos olie.

19Mag dit vir hom word soos 'n kledingstuk waarin hy homself hul, en 'n lyfband wat hy altyd dra.”

20Mag dít van die Here se kant die straf wees vir hulle wat my vyandiggesind is, en wat onheil oor my lewe uitspreek!

21Maar, U, Here, my Heer, handel met my ter wille van u Naam; omdat u troue liefde goed is, red my!

22Want ek is magteloos en behoeftig, en my hart is deurboor in my binneste.

23Soos 'n skaduwee wat lank word, gaan ek heen; ek word afgeskud soos 'n treksprinkaan.

24My knieë gee mee sonder dat ek vas; my liggaam is uitgeteer, sonder olie.

25En ek, ek het vir hulle 'n bespotting geword; wanneer hulle my sien, skud hulle die kop.

26Help my, Here my God; verlos my in u troue liefde,

27sodat hulle kan weet dat dit u hand is, dat U, Here, dit gedoen het.

28Hulle kan maar vervloek, maar U, U sal seën. Sou hulle teen my opstaan, sal hulle beskaam word; u dienskneg sal bly wees.

29Mag hulle wat my vyandiggesind is, geklee wees in vernedering; mag hulle in hulle skande gehul wees soos in 'n mantel.

30Met my mond sal ek die Here met oorgawe prys, tussen baie mense sal ek Hom loof;

31want Hy staan aan die regterkant van die behoeftige om hom te verlos van hulle wat oor sy lewe wil beslis.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 109.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.