Psalms 108
1 'n Lied. 'n Psalm. Van Dawid.
2 My hart is standvastig, o God. Ek wil sing, ek wil lofsing, ja, van harte.
3 Word wakker, harp en lier! Ek wil die dagbreek wakker maak.
4 Ek wil U dank onder die volke, Here, ek wil U besing onder die nasies;
5 want groot, ja, hoër as die hemel, is u troue liefde; tot by die wolke is u waarheid.
6 Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid oor die hele aarde,
7 sodat u geliefdes gered kan word. Verlos tog met u regterhand en antwoord my.
8 God self het in sy heiligdom verklaar: “Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel, die vallei van Sukkot gaan Ek afmeet.
9 Aan My behoort Gilead, aan My Manasse; Efraim is 'n beskutting vir my kop, Juda is my heerserstaf.
10 Moab is my waskom, op Edom gooi Ek my sandaal; oor Filistea juig Ek.”
11 Wie sal my bring na 'n versterkte stad? Wie sal my lei tot by Edom?
12 Is dit nie U, o God, wat ons verstoot het nie? U, o God, trek nie meer saam met ons leërs uit nie.
13 Kom ons te hulp teen teenstanders – die hulp van mense is nutteloos.
14 Met God tree ons dapper op – Hý sal ons teenstanders vertrap.