Bible

Say Goodbye

To Clunky Software & Sunday Tech Stress!

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 107

:
Afrikaans - AFR20
1 “Dank die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde,”
2 moet hulle wat deur die Here vrygekoop is, hulle wat Hy vrygekoop het uit die hand van teenstanders,
3 en byeengebring het uit alle lande, uit die ooste en die weste, uit die noorde en vanaf die see.
4 Hulle het in die woestyn rondgedwaal, in die wildernis was hulle op pad; 'n stad, 'n woonplek, kon hulle nie kry nie.
5 Honger en dors was hulle; die lewenskrag in hulle het weggekwyn.
6 Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle gered.
7 Hy het hulle op 'n gelyk pad gelei om na 'n stad, 'n woonplek, te gaan.
8 Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders;
9 want Hy het die dors van hulle kele geles, en die honger van hulle kele het Hy gestil met wat goed is.
10 Hulle wat in donkerte en digte duisternis gesit het, was gevangenes in ellende en ysterboeie,
11 omdat hulle teen God se woorde in opstand was en die raad van die Allerhoogste verontagsaam het.
12 Hy het hulle harte deur swaarkry nederig gemaak. Hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.
13 Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle verlos.
14 Hy het hulle uit donkerte, uit digte duisternis gelei; hulle boeie het Hy stukkend gebreek.
15 Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders;
16 want Hy het deure van brons stukkend gebreek, die sluitbalke van yster stukkend gekap.
17 Dwase het, deur hulle pad van oortreding en deur hulle sondeskuld, hulle eie teistering veroorsaak.
18 Aan alle kos het hulle kele gewalg, hulle het tot by die poorte van die dood gekom.
19 Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle verlos.
20 Hy het sy woord gestuur en hulle genees; Hy het hulle laat vrykom uit hulle vangkuile.
21 Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders.
22 Hulle moet aan Hom •dankoffers bring en met jubelkrete van sy dade vertel.
23 Dié wat by die see in bote klim, hulle wat handel dryf op die groot waters,
24 hulle het self die dade van die Here beleef, sy wonders op die diepwater.
25 Hy het gepraat en 'n stormwind laat opsteek; dit het die see se golwe laat uittroon.
26 Hulle het opgerys na die hemel, afgesak na die dieptes; in die ramp het hulle moed hulle begewe.
27 Hulle het rondgeslinger, en gesteier soos 'n dronk mens; al hulle vernuf was waardeloos.
28 Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle uitgelei.
29 Hy het die storm stil gemaak en die golwe het bedaar.
30 Hulle was bly toe die golwe kalm word. Hy het hulle gelei na die hawe waarna hulle verlang het.
31 Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders.
32 Hulle moet Hom verheerlik in die byeenkoms van die volk, Hom loof waar die oudstes saam sit.
33 Hy het riviere verander in 'n woestyn, waterbronne in 'n dorsland,
34 vrugbare aarde in brak grond vanweë die boosheid van dié wat daar woon.
35 Hy het 'n woestyn verander in 'n waterryke vleiland, droë aarde in waterbronne.
36 Hongeres het Hy daar laat woon, hulle kon 'n stad, 'n woonplek, vestig.
37 Hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat die vrug van die oes gelewer het.
38 Hy het hulle geseën, hulle baie meer laat word; hulle vee het Hy nie minder laat word nie.
39 Toe hulle minder geword en gebuk gegaan het onder die druk van rampe en bekommernis,
40 het Hy wat minagting uitstort oor vooraanstaandes, en hulle laat ronddwaal in 'n woesteny sonder paaie,
41 behoeftiges beskerm teen ellende, en hulle familiegroepe so talryk soos kuddes kleinvee gemaak.
42 Opregtes sien dit en is verheug; maar almal wat onreg doen, hou hulle monde toe.
43 Wie wys is, moet hierop ag slaan en op die troue liefde van die Here let.